Suster Maria Bailey, ’n geliefde verpleegster en die bedryfsbestuur­der by die Hawston-kliniek, het onlangs ná vier dekades in die gesondheidsdiens afgetree.

Haar dekades lange loopbaan het in 1984 as studentverpleegster by Tygerberg-hospitaal begin. Sy het sedertdien diep spore in die gesondheidsorggemeenskap gelaat.

Suster Bailey het in Januarie 1992 die skuif van die Tygerberg- na die Hermanus-hospitaal gemaak, waar haar passie vir chirurgie, verloskunde en noodsorg verdiep het. Sy het op 1 Junie 2006 by die Hawston-kliniek begin werk en is kort daarna as die bedryfsbestuurder vir die kliniek aangestel.

Sy het altesaam 18 jaar by dié kliniek gewerk en in hierdie tyd is sy aan verskeie uitdagings – medies, maatskaplik, geestelik en verstandelik – blootgestel.

Dié wat haar ken, sê die verloop van Bailey se loopbaan – van haar dae in die trauma- en kraameenhede by die Tygerberg- en Hermanus-hospitaal tot haar oorgang na primêre gesondheidsorg – versinnebeeld die evolusie van verpleegkunde.

Almal is dit eens dat suster Bailey altyd deernis, veerkragtigheid en toewyding tot holistiese pasiëntesorg getoon het.

Marlene Samuels, die bestuurder van primêre gesondheidsorg in die Overstrand, het Bailey beskryf as ’n “uitstekende clinician” wat nooit gehuiwer het om vir haar pasiënte te veg nie.

“Sy was baie betrokke by die gemeenskap en het empatie met almal en hul behoeftes gehad.

“Sy het ook goeie bande met gemeenskapsorganisasies en strukture gebou en dit het goeie resultate met gesondheidsorg-veldtogte help verseker,” het Samuels bygevoeg.

“Suster Bailey het goeie leierseienskappe getoon en die Hawston-kliniek se personeel sal haar mis.

“Ek groet haar met ’n hartseer hart, maar wens haar voorspoed toe met haar aftrede.”

Bailey sê verpleging is meer as net ’n beroep – “dit is ’n roeping”.

Sy het beklemtoon dat verpleegsters verby hul titels moet kyk en eerder elke pasiënt met omvattende begrip en empatie moet benader.

Dié afgetrede gesondheidsorgwerker het die departement van gesondheid sowel as die bestuurspanne wat haar bygestaan het, bedank.

Hoewel sy afgetree het, beplan Bailey om steeds die gemeenskap te dien aangesien die behoefte aan professionele gesondheidsorgwerkers baie groot is.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het hul dank teenoor Bailey uitgespreek en haar ’n vervullende aftrede toegewens.

You need to be Logged In to leave a comment.