Overbergse rugbyspanne het hul staal hierdie naweek behoorlik gewys en koning gekraai in hul eerste Boland-Top-12-wedstryde wat op eie bodem gespeel is.
Hawston het hierdie naweek op sy tuisveld teen Roses United van Wellington kragte gemeet. Roses het in die eerste helfte oorheers en kort voor halftyd 12-3 voorgeloop. Hawston se manne het hard gewerk om die rustydtelling 10-12 te maak.
Dit het gelyk asof Roses ná rustyd effens verlep het en die besoekers kon net nie deur Hawston se verdediging breek om enige punte in die tweede helfte aan te teken nie.
Skrik vir Niks se manne het behoorlik oor Roses gestoomroller en die eindtelling 31-12 gemaak.
Wesley Spandiel, Ronaldo Isaacs en Francois Geduld het drieë vir SVN aangeteken en Roland Swarts het die bal sekuur oor die pale geklits en twee drieë verdoel, drie strafskoppe oorgeskop en een skepskop aangeteken.
Dit was egter Geduld, Skrik vir Niks se agsteman, wat uitgestaan het as ’n doring in Roses se vlees en hy is as die speler van die wedstryd aangewys.
Hawston kon nie daarin slaag om ’n bonuspunt aan te teken nie en lê dus derde op die Groep A-punteleer, terwyl Wesbank en Robertson Rangers, wat elk ’n bonuspunt verdien het, onderskeidelik eerste en tweede op die puntelys is.
Caledon het ook die Overberg se naam hoog gehou en bewys dat hy op “anne levels” is deur Delicious van Clanwilliam 26-11 te wen. Caledon lê heel bo-aan die Groep B-punteleer.
Lorenzo Swarts, wat een drie gedruk, ’n drie verdoel en ’n strafskop oorgeskop het, is as die speler van dié wedstryd gekroon.
Dylan May en Stanley Frans het ook elk vyf punte vir Caledon aangeteken.
Hawston sal hierdie naweek die pad Weskus toe aanvat om teen St. Helenabaai te speel en Caledon reis na Darling vir sy tweede Top-12-wedstryd.