SVN wys wie’s werklik baas

Dis amptelik – Hawston Skrik vir Niks is weer eens die Overberg se rugbykampioen!.


Dis amptelik – Hawston Skrik vir Niks is weer eens die Overberg se rugbykampioen!

Hawston het Saterdag (8 Oktober) sy laaste Grootuitdaagliga-wedstryd in Bredasdorp teen Rangers gespeel. Hoewel Rangers teen halftyd 12-3 voorgeloop het, het die besoekers in die tweede helfte alles ingesit om sy titel as die Overberg se Grootuitdaagliga-streekkampioen te verdedig.

Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar (behalwe 2020 en 2021 toe die rugbyseisoene weens die Covid-pandemie gekanselleer is) dat Hawston as die streekkampioen eindig.

Branden Hunter, SVN se kaptein, sê dit was ’n strawwe stryd van begin tot einde met albei spanne wat bitter graag wou wen.

Halftime moes ek harde woorde in die kring sê en die manne herinner dat ons te ver gekom het om alles net so weg te gooi. Die manne het geluister en ons het daarop gefokus om dinge wat ons in die eerste helfte nie reg gedoen het nie, te verbeter.”

Ashley Swartz, bestuurslid van Hawston RVK, sê die sege is ’n groot mylpaal vir SVN, wat aan die begin van die seisoen “ ’n bietjie gesukkel het”.

“Dit was ’n moeilike jaar. Waar ons vorige jare met ’n wedstryd of twee oor reeds van die reeks verseker was, moes ons hierdie jaar die laaste wedstryd teen Bredasdorp wen om bo-aan die punteleer te eindig.”

Cameron Plaatjies het SVN se enigste drie aangeteken, Bradley Brown het ’n skepskop oorgeskop en Roland Swarts het twee strafskoppe verdoel om die eindtelling 14-12 te maak.

Skrik vir Niks se manne het altesaam 16 van hul 18 wedstryde gewen om bo-aan die liga se punteleer te eindig. Caledon, wat die grootste deel van die seisoen bo-aan die punteleer gelê het, is tweede ná 14 seges. Dié span het een nederlaag teen Hawston gely en drie van sy wedstryde het gelykop geëindig.

Dit beteken Skrik vir Niks se manne en Caledon RVK sal die Overberg in die Top-12 verteenwoordig.

Safcol van Grabouw was derde op die punteleer, Rangers van Bredasdorp vierde, Gansbaai se Black Leaves vyfde, Kleinmond sesde, Botrivier sewende, Grabouw agste, Genadendal negende en Atlantics heel onderaan die punteleer in die tiende plek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.