Altesaam 615 sokkerspelers van 41 spanne van oor die Overberg het Saterdag 3 Mei aan ‘n opwindende toernooi op Mount Pleasant-sportveld deelgeneem.
Mededinging was straf, maar die gashere, MP City FC van Mount Pleasant, het hulle goed van hul taak gekwyt. Ná verlede naweek se wedstryde loop MP City FC se o.14-span voor in hul afdeling met 69 punte gevolg deur Gouga United FC en Vivo United FC met 67 punte elk. MP City FC is in die vierde plek op die o.16-ouderdomsgroep se puntelys. Gouga United FC is in die eerste plek op dié ouderdomsgroep se punteleer (73), New Rest Academy tweede (71) en Hawston FC derde (58).
Gouga United FC loop met 78 punte voor in die o.8-afdeling. In die tweede plek is Vivo United FC Raptors met 73 punte en Shibobo FC met 69 punte in die derde plek op die punteleer. In die o.10-ouderdomsgroep is Caledon FC en Shibobo FC boaan die punteleer met 71 punte elk en Hawston FC net onder hulle met 69 punte tot dusver in die seisoen.
Verskeie spanne sal mekaar weer op 24 Mei in Gansbaai en dan weer op 24 Junie by die Glaskasteel in Bredasdorp die stryd aansê.
Desire Jagers en Charlene Prins van MP City FC het almal wat tot die dag se sukses bygedra het, vir hul ondersteuning bedank. “Baie dankie aan Randall Montaque (Webster), Collin Sauls en Norman Koff van die Bloemenstein-slaghuis, al die ondersteuners asook die sokkerspelers se ouers vir hul bydrae op alle vlakke. Spesiale dank gaan aan die organiseerders en die bestuur van MP City FC. Julle het julle goed van jul taak gewkyt,” het sy bygevoeg.
Jagers het ook ‘n beroep op die plaaslike gemeenskap en sakelui gedoen om die ontwikkeling van jong spelers deur middel van borgskappe en skenkings te ondersteun. Die klub benodig sokkertoerusting, balle en uitrusting. Enigeen wat die klub wil ondersteun, kan die sekretaresse, Charlene Prins, by 076 484 8388 of Desire Jagers by 079 246 7191 kontak.
