Studente het in 1952 in Pakistan teen die gebruik van Urdu as die amptelike taal betoog. Bengali of Bangla was hul moedertaal en hulle was bereid om daarvoor te sterf.
Unesco het op 17 November 1999 ’n Wêreldmoedertaaldag ingestel wat jaarliks op 21 Februarie gevier word.
’n Tema vir Wêreldmoedertaaldag word jaarliks deur Unesco bepaal en het al “Braille en Gebaretaal” en “Tale in die kuberruim” ingesluit. Dié jaar se tema was “Die gebruik van tegnologie vir meertalige leer: uitdagings en geleenthede.”
Wêreldmoedertaaldag is op ’n prettige manier in Caledon gevier. Marlon Sauls, opvoedkundige beampte van die Caledon-museum, sê: “Ons het, in samewerking met die Caledon-biblioteek, op laerskole gefokus, en omdat tegnologie soos skootrekenaars nie geredelik vir alle leerders beskikbaar is nie, het ons besluit om die Caledon-taaltuin uit te beeld, asook om ’n skattejag vir jong leerders aan te bied waar hulle versteekte letters moes vind om hul name te spel.
“Die leerders het papierblomme gemaak en moes hul blomme in hul moedertaal, wat Afrikaans, Xhosa en Zoeloe insluit, beskryf en kleure identifiseer.”
Sauls sê hulle beoog om volgende jaar se blomme vir die taaltuin uit herwinbare produkte te maak.
Die uitstalling kan vir die volgende maand by die Caledon-museum sowel as by die biblioteek besigtig word.