Talle nou op straat

Dit is nou reeds ’n week dat talle Paradise-inwoners met die hande in die hare sit nadat die balju en wetstoepassers verlede Maandag (22 Augustus) met uitsettings begin het.


Dit is nou reeds ’n week dat talle Paradise-inwoners met die hande in die hare sit nadat die balju en wetstoepassers verlede Maandag (22 Augustus) met uitsettings begin het.

Hermanus Times het al voorheen berig oor dié omstrede private eiendom in Vermont. Dié grond is in 2017 aan ’n ontwikkelaar verkoop en ná vele hofsittings is ’n uitsettingsbevel verlede Maandag uitgevoer waardeur 48 mense uit hul huise gesit is – agt gesinne is fisiek uit hul huise gesit en van die ander se huise is afgebreek of ontruim.

H
ermanus Times het met van die inwoners wat uitgesit is, gepraat.

“Hierdie is dalk klein, maar dis my paleis; ek woon al die afgelope 10 jaar hier. Waarheen moet ek gaan?” het ’n inwoner by sy rondawel gesê.

’n Bejaarde inwoner skerts dat hy in die berge in ’n grot gaan bly. “Ek gaan my kos vat en daar bly – daar is genoeg water; ek sal maar saam met die bobbejane lewe,” vertel hy laggend, maar sy gesig is strak as hy op ’n ernstiger noot vertel dat hy geen ander heenkome het nie. “Ek woon al die afgelope 20 jaar in my huis. Ek het al my pensioengeld gebruik om my ‘plekkie in die son’ te kry. Ek het nie kinders nie. Ek weet nie wat ek gaan doen nie,” vertel hy.

Chris Moolman, wat sewe jaar saam met sy vrou en hul twee kinders van 15 en 17 in hul huis woon, sê: “Ons het vanoggend ’n brief van die balju gekry om te sê ons moet hier uit. Kyk, al my besittings is in my motor gepak. Ons moet glo in ’n saal in Hawston gaan bly, en in Oktober kry ons noodbehuising. Ek weet nie waarheen ek met my meubels moet gaan nie, en dit wat moet agterbly moet maar agterbly. Dit is nou die tweede keer dat ek alles verloor”.

’n Ander inwoner sê hy woon al vandat hy sewe jaar oud is hier en die huis is baie werd. “Hulle los ons nie uit nie. Ek moet nou in Stanford gaan bly. Wat van my kinders en diere?” vra hy.

Volgens die Overstrand-munisipaliteit is die uitsettingsbevel uitgevoer ingevolge die Wet op Onregmatige grondbesetting (PIE). “Waar uitsettings plaasvind, is dit die munisipaliteit se grondwetlike verantwoordelikheid om noodbehuising aan inwoners te verskaf. Noodbehuising beteken nie dat dit ’n formele huis is nie, maar ’n stuk grond waar basiese dienste verskaf word en waar jy jou struktuur tydelik kan oprig,” het dr. Annelie Rabie, die Overstrand se burgemeester, in ’n verklaring gesê.

“Die munisipaliteit het al in 2018 noodbe­huising in die Stanford-behuisingsont­wikkeling vir die inwoners van Paradisepark geïdentifiseer. Net 28 huishoudings het aansoek om noodbehuising gedoen. Van dié 28 is 20 aansoekers 60 jaar en ouer en drie is gestremd. Al die ander inwoners word die geleentheid gegun om tydelik in Hawston-Thusong-saal te bly,” het die persverklaring gelui.

Volgens Philip du Toit, ’n inwoner wat al 14 jaar in Paradisepark woon en een van die woordvoerders is, kon die inwoners nie in die Thusong-saal bly nie en hulle het op straat en in die bosse geslaap.

“Gelukkig het mense hul huise vir ons inwoners oopgemaak, maar dis net tydelik. Dis onnodige spanning wat op die mense geplaas word. Selfs Chris Nissen, die kommissaris van die MRK in die Wes-Kaap, het gesê dis onmenslik,” sê Du Toit. Hy sê voorts hulle het verlof tot appèl gevra om die uitsetting teen te staan, en dit kom op 10 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.