Een van die laaste foto’s van die geliefde Tannie Anna Spaarwater soos mense haar geken het – stylvol en altyd gereed vir die Hermanus-Kalfiefees.


Sy was vir 18 jaar ’n komiteelid van die Hermanus-Kalfiefees en sal vir haar lojaliteit, hardwerkendheid en liefde vir die kunste onthou word.

Tannie Anna Spaarwater is verlede Dinsdag (6 Augustus) oorlede nadat sy nog vir oulaas na die optrede van Mel die Storieverteller gaan kyk het.

Op 83 het sy steeds stil-stil agter die skerms aan die Kalfiefees gewerk, al was dit net om raad te gee. Sy het in ’n kort video-opname voor haar dood gesê: “Ek wil net graag ’n boodskap rig aan die Kalfiefees-komitee aangesien ek nou lank daar was, en ondervinding kan nie gekoop word nie. Ek probeer my deeltjie bydra as ek raad kan gee. Dis harde werk . . . jy dink elke dag daaraan; daar is nie genoeg ure in ’n dag nie en jy moet net aangaan en klaarmaak en ’n goeie produk vir die mense bring.”

Haar dogter, Lisa Spaarwater, wat die Kalfiefees-produksiebestuurder is, vertel haar ma het vir 18 jaar met hart en siel op die Kalfiefees-komitee gedien en sy was in die laaste twee jaar steeds daar om raad te gee en voorstelle te maak. “So mooitjies in die middel van die Kalfiefees-week, ná ’n vertoning en ’n glas rooiwyn, was ons ma moeg en het rustig in haar stoel haar laaste asem uitgeblaas. Net so, en net soos wat sy nog altyd dinge gedoen gekry het . . . sonder drama,” vertel Lisa.

Tannie Anna is op 15 Maart 1941 in Kaapstad gebore en het op vyfjarige ouderdom saam met haar gesin na Pretoria verhuis. Sy was jare lank ’n bibliotekaresse en onderwyseres, mede-eienaar van die Listeners’ Library, eggenoot, toegewyde ma van vier kinders asook ouma van vier kleinkinders. Verder was sy ’n lojale vriendin en trotse Oud-Affie en volgens Lisa was haar onvoorwaardelike liefde die mooiste eienskap wat hulle altyd sal bybly.

Diep liefde

“Sy het vir 20 jaar in Onrus gewoon en haar grootste bederf was ’n onverwagse kreef of vissie op haar bord. Saam met haar sagte alledaagse omgaan, diep liefde vir tale, kuns, rugby, argitektuur, reis, die teaterwêreld, boeke verslind en die pad vat na die KKNK, Woordfees en Suidoosterfees, was sy ’n bron van inligting en ook net lekker geselskap. Jy kon haar enigiets oor die Blou Bulle, die Blitsbokke, krieket, swem en sepies vra – sy sou jou inlig. Met haar fyn sin vir humor kon sy nog lag vir haarself ook,” vertel Lisa hartseer. “Sy gaan ’n leemte in soveel mense se lewe laat. Rus sag, Mammie.”

Die Kalfiefees-feesdirekteur, Hester Finberg, vertel Tannie Anna was ’n raakvatter. “Ons het lank saam gewerk en sy gaan ’n groot leemte in die gemeenskap los. Maar ek troos my daaraan dat Anna oorlede is in ’n tyd wat haar na aan die hart gelê het – haar geliefde Kalfiefees – en ek glo Anna sou sê: ‘The show must go on’.”

Die Kalfiefees het ná haar dood op sy Facebookblad gesê: “Ons geliefde Tannie Anna Bosman Spaarwater het gisteraand haar laaste Kalfiefees-vertoning bygewoon. Tannie Anna was vir 18 jaar met hart en siel betrokke by die Kalfiefees en het ons tot aan die einde op ons tone gehou met lysies van alles wat ons moes doen om haar geliefde fees te laat voortleef. Ons harte is baie seer, maar ons onthou Tannie Anna vir haar groot vreugde, liefde en passie vir die kunste.”

Bekendes neem afskeid

Die bekende Amanda Strydom het op haar Facebookblad geskryf: “Ons geliefde Anna Bosman Spaarwater het gister onverwags heengegaan; rustig by haar huis in Hermanus; in haar leunstoel. Dis só ’n skok. Die Kalfiefees sal nooit weer dieselfde wees sonder jou nie, liefste Anna. Ek het so uitgesien na daardie drukkie. My hart gaan uit na Lisa Spaarwater, al jou kinders en kleinkinders. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus in vrede.”

Henry Mylne skryf: “Lisa Spaarwater, so, só jammer om dit te verneem. Hoe gepas eintlik om ten tye van haar geliefde Kalfiefees te gaan. Wat ’n statige exit. Sy sal onthou word. Ek het langs haar gesit een aand in die ou Fugard-teater. Sy wou so graag my verhoogproduksie van Vaselinetjie by die Kalfiefees hê, maar ons het besluit met ’n cast van 21 mense and counting was dit net nie finansieel haalbaar nie. Wat ’n dame en lieflike warm mens was sy nie!”. Tannie Anna laat haar kinders, Suzanne, Bosman, Cobus en Lisa, asook haar kleinkinders, Everaad, Mika, Mich en Christiaan agter.

Haar lewe word Saterdag 17 Augtustus om 10:00 in die NG kerk in Onrus gevier.

You need to be Logged In to leave a comment.