Haar lewe was soos haar persoonlikheid – opwindend, positief en ’n inspirasie.

Een van die oudste inwoners van Hermanus, Arena Osche, of tannie Arena soos sy alombekend was, is op 15 April in die ouderdom van 103 oorlede. Sy sou op 22 Augustus 104 jaar oud geword het.

Dié voormalige inwoner van Fynbos-aftreeoord in Hermanus het nog voor haar dood geskerts dat sy vir die oumense fiksheidsklasse moet gaan gee.

Haar dogter Angelique Brink, by wie sy ten tyde van haar dood gewoon het, vertel van haar ma se opwindende lewe. “Sy kon nie stilsit nie. Afgesien van die oefenklasse wat sy vir die bejaardes in Fynbos aangebied het, het sy op 91 ’n uur lange lugballonvaart meegemaak en op 99 jaar twee keer Hoy se koppie uitgeklim en gemaklik 3 km gestap,” vertel Angelique.

Tannie Arena se rybewys is op 98 jaar nie weer aan haar toegeken nie.

Sy het in ’n onderhoud aan ’n tydskrif gesê niks skort met haar sig nie, maar dit (haar rybewys) gaan haar nie onderkry nie; sy sal maar loop waar sy wil wees. “My huishulp het ook al aan my gesê my ma is ’n baie beter bestuurder as ek,” sê Angelique.

Dat sy geliefd onder haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders was, is gewis – hulle het selfs vir haar ’n boek saamgestel met boodskappe aan die familie se geliefde ouma en oumagrootjie.

Tannie Arena het in die Swartland grootgeword en wou graag ’n beroep in verpleegkunde volg, maar het ’n graad in huishoudkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy het ook gereeld hekelpatrone aan Sarie en Landbouweekblad voorsien.

Tannie Arena laat vier dogters, van wie twee in Europa woon, 11 kleinkinders en 23 agterkleinkinders agter. Haar roudiens is op 4 Mei om 10:30 in die NG kerk Onrus.

You need to be Logged In to leave a comment.