Tannie Leen Tobias van Caledon vier haar 100ste verjaardag

Wanneer ’n mens 100 jaar oud is, mag jy met trots ’n kroon op jou kop dra. En dit is presies wat tannie Leen Tobias van Caledon Woensdag 12 Oktober tydens die viering van haar 100ste verjaardag gedoen het.


Wanneer ’n mens 100 jaar oud is, mag jy met trots ’n kroon op jou kop dra. En dit is presies wat tannie Leen Tobias van Caledon Woensdag 12 Oktober tydens die viering van haar 100ste verjaardag gedoen het.

Paulina van der Heyde is in 1922 in Tesselaarsdal gebore, maar sy het as jong volwasse vrou in Caledon kom woon, waar sy dan ook baie jare gewerk het, onder meer as skoonmaker by Theunissen Broers en Swartberg Primêr.

Tannie Leen het 10 kinders gehad, waarvan vier, Danie, Kosie, Joey en Kittie Tobias, nog lewe en ook in Caledon woon. Daar is 30 kleinkinders en talle agterkleinkinders.

Kleinseun Jonathan van der Heyde sê: “Ek is geëerd om ’n ouma te hê wat 100 jaar oud is. Ouma was lief vir tuinmaak en het baie vrugtebome hier in haar werf gehad. As kinders het ons dikwels kom vrugte pluk wanneer ons by haar gekuier het.”

Rachel Stompies, kleindogter, sê: “Ek is baie dankbaar dat die Here haar so ver gedra het.”

Skoondogter Alice Tobias versorg vir tannie Leen. “Ek en my man Kosie woon al sewe jaar hier by Ouma in die huis. Ons laat haar nou wel nie meer kos maak nie, maar verder is sy nog op die ball.”

Die Bluebells-orkes het vir ’n feestelike atmosfeer gesorg met hulle musiek, waarna ds. Gerome Haupt ’n kort diens gelei het. Oud-Springbok rugbyspeler Errol Tobias het nagmaal aan tannie Leen bedien.

Oudkollegas Verney de Bruyn en Edna Vashu het ook kort toesprake gelewer.

’n Emosionele Danie Tobias het vertel hoe lief hy sy ma het en haar bedank vir alles wat sy oor die jare vir hulle gedoen het. Hy het ook die baie gaste bedank wat byeengekom het om hierdie spesiale geleentheid saam met die familie te vier.

Tannie Leen, pragtig geklee in ’n pienk uitrusting, kon aanvanklik nie glo dat al die mense daar was om haar spesiale dag te vier nie, maar na ’n ruk het sy met ’n tevrede glimlag op haar gesig gesit en ritmies hande op maat van die musiek geklap.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.