’n Projek om dienslewering en die gedrag van taxibestuurders
in die Wes-Kaap te verbeter, is onlangs van stapel gestuur.
Die Blue Dot Taxi-gidsprojek is ’n inisiatief van die
Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke vir taxi-operateurs,
voertuie en bestuurders om verbeterde gedrag agter die stuurwiel te beloon,
dienslewering te verbeter en die gevaar van onwettige bedrywighede en
gewelddadige konflik te verminder.
Meer as 1 000 taxi’s van oral in die provinsie neem aan die
gidsprojek deel, luidens ’n verklaring.
Voordat taxi’s kan deelneem, moet eienaars, hul voertuie en
bestuurders aan ’n reeks kriteria voldoen om sogenaamde groen status te bereik.
Die eienaars en bestuurders se dokumente moet in orde wees
en hulle moet ’n Blue Dot-opleidingsprogram voltooi.
Taxi’s moet oor ’n geldige padwaardigheidsertifikaat beskik,
’n opsporingstoestel hê en ’n kenteken van die departement vertoon.
Blue Dot-taxi’s wat reeds groen status het, is reeds op
paaie te sien.
Operateurs met groen status sal deur die departement
gemonitor en beloon word vir goeie gedrag. Hoe beter hul gedrag is, hoe groter
is die beloning, sê die departement.
In die tussentyd gaan werk voort om groen status vir nog
operateurs te bekom.
Volgens die departement het die projek die volle
ondersteuning en deelname van die Wes-Kaapse taxibedryf, wat Santaco se
Wes-Kaapse tak en agt taxi-streeksrade in die provinsie insluit.
Een van die Blue Dot-stelsel se kenmerke is dat passasiers
die taxi se diens kan gradeer deur *134*3047# gratis van hul selfone te skakel
of ’n WhatsApp met die woord “Hi” te stuur na 073 249 2152, met die taxi se
unieke nommer wat buite-op of binne-in die voertuig aangebring is.