Die tekort aan teengif landwyd kan ‘n probleem veroorsaak.

Mark Jago

Dit is somer en dit beteken die slangbyt-seisoen is terug.

Volgens navorsing word tot ongeveer 4 000 mense elke jaar in Suid-Afrika deur slange gebyt en die meeste van hierdie bytvoorvalle gebeur vroegaand – hoofsaaklik tussen November en April – en veral op warm, reënerige nagte.

Volgens kenners is slange nie aggressief nie en byt gewoonlik weens paniek “wanneer iemand op hulle trap, hulle per ongeluk in ’n beperkte gebied vasgekeer word, of wanneer iemand probeer om een dood te maak.

“Gewoonlik sal slange eerder wegseil as hulle die geleentheid kry, maar baie sal nie huiwer om te byt wanneer hulle in gevaar of bedreig voel nie,” het die kenner gesê.

Mense word egter wel deur slange gebyt en dit kan dodelike gevolge hê omdat giftige slange se gif uiters toksies is.

“Die enigste behandeling vir ernstige slangbyte is teengif. Die Suid-Afrikaanse Vaksine-produsente (SAVP) produseer twee slang-teengifte vir Suid-Afrikaanse slange – ’n monovalente boomslang-teengif wat selde gebruik word aangesien die boomslang selde byt, en ’n polivalente teengif wat gemaak word van die gif van 10 verskillende slange. Dit dek die byt van kobras, mambas, die rinkhals, pofadder en die gaboenadder. Teengif word slegs in hospitale toegedien, want, soos baie ander medisyne, kan die pasiënt newe-effekte ervaar. Tot 45% van die pasiënte wat met SAVP se teengif behandel word, ervaar anafilaktiese skok.”

Buite ’n hospitaalomgewing kan anafilaksie moeilik wees om te hanteer en tot sterftes lei.

Volgens die kenner ondervind die SAVP sedert die begin van Covid produksieprobleme en oor die afgelope paar jaar was daar in verskeie gevalle ’n ernstige tekort aan teengif.

Veeartse het volgens die kenner groot probleme ondervind om teengif te bekom en baie honde het gevrek omdat hulle nie ná ’n slangbyt behandel kon word nie.

“Die huidige situasie is ernstig en dit blyk dat SAVP geen voorraad het omdat niks geproduseer word nie. Ongelukkig is dit nie moontlik om antwoorde van SAVP te verkry nie, maar in ’n onlangse e-pos het hulle bevestig dat hulle tans nie teengif kan verskaf nie. Die meeste groot hospitale in hoërisikogebiede het ’n bietjie teengif, maar dikwels veels te min in voorraad. Vir ’n ernstige slangbyt is die aanvanklike dosis ongeveer 6-12 flessies polivalente teengif en bykomende flessies kan nodig wees.”

Volgens die kenner word alternatiewe teengif genaamd Pan African Premium tans ingevoer en dit blyk ’n goeie alternatief te wees. “Dit kos omtrent dieselfde as die SAVP-polivalente teengif, maar vereis dubbel die dosis, en dus dubbel die prys.” .Slangvangers: Jonathan Powers 082 352 6000; Corné Uys 076 075 8004; Hugo Uys 062 482 5410 (Hermanus). Gansbaai: 079 844 9513. Franskraal: Patrys Laubser: 082 375 7075. Kleinmond/Bettysbaai: Mike Green: 082 212 5116. Bettysbaai: Overstrand Snake Removal: 084 274 3163. Pringlebaai: Francois van Zyl 083 271 8809. Stanford: Craig Niemand 082 310 7491. Pearly Beach: Pete B-Moore 082 807 0280. Caledon: Eduard Coetzee: 079 493 9120. Botrivier: Paul Olivier 066 432 3752: Greyton: Julian Snyders 082 790 7199.

You need to be Logged In to leave a comment.