Na die oorweldigende sukses van die Theuns Jordaan Tribute-konserte op Loftus Versfeld en die DHL Stadion, waar skares van meer as 15 000 mense die ikoniese Suid-Afrikaanse musikant geëer het, breek die produksie nou nuwe grond met sy eerste Europese voorstelling.
Die room van SA-talent verenig in Amsterdam
Die AFAS LIVE Arena in Amsterdam sal die verhoog wees waar die room van Suid-Afrika se musikale talent byeenkom om hulde te bring aan die legendariese Theuns Jordaan. Die sterrebesetting sluit in Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Gerhard Steyn, Liezel Pieters, Dewald Wasserfal, Jacques du Plessis, Bok van Blerk, Lianie May en Floors Oosthuizen.
Hierdie kunstenaars het almal Theuns na aan die hart gelê en sy lewenspad saam met hom gestap, wat die tribute-konsert ’n diep persoonlike en betekenisvolle ervaring maak.
’n Grootskaalse produksie met persoonlike toewyding
Die uitnemende grootskaalse produksie word behartig deur gesoute vervaardigers Deedee en Floors Oosthuizen in samewerking met Jacques du Plessis, wat self vir byna vyftien jaar saam met Theuns opgetree het.
“Die konsert is vir ons uiters kosbaar en dis ’n groot voorreg om dit in Amsterdam te kan aanbied,” sê Du Plessis. “Die kunstenaars wat deel is van die produksie is baie opgewonde en die publiek se reaksie is oorweldigend.”
Du Plessis beklemtoon die ongelooflike invloed wat Theuns op miljoene mense gehad het: “Ons is almal in totale verwondering en ontsag vir die invloed wat Theuns op soveel miljoene mense gehad het. Sy nalatenskap is omvangryk.”
’n Massiewe produksie wat Amsterdam sal onthou
Die organiseerders belowe dat die Amsterdam-konsert dieselfde grootsheid sal hê as die Suid-Afrikaanse voorstellings. “Dis ’n baie spesiale konsert. Ons besef watter groot verantwoordelikheid op ons rus om Theuns se nalatenskap te eer. Ons gaan nie terughou nie,” verduidelik Du Plessis.
“Dit gaan ’n massiewe produksie en konsert wees, soos wat dit op Loftus en by die DHL Stadion was. Dit was besonders op Loftus en in die Kaapstad Stadion en dit gaan iets wees wat Amsterdam ook vir ’n baie lang tyd sal onthou.”
Van “partytjie-liedjies” tot vroë klassiekers
Aanhangers kan verwag om ’n breë spektrum van Theuns se repertoire te hoor, van sy gewilde “partytjie-liedjies” tot liedjies wat in die beginjare van sy loopbaan uit sy pen gevloei het.
“Die kunstenaars wat deel is van die produksie is diegene wat Theuns se lewenspad saam met hom gestap het en hom werklik na aan die hart gelê het,” verduidelik Du Plessis.
Bobby van Jaarsveld, in wie se loopbaan Theuns ’n beduidende rol gespeel het, is opgewonde oor die geleentheid. “Theuns was ’n besonderse mens en vriend. Ek is baie opgewonde om weer op die verhoog te kan wees saam met hierdie kunstenaars en vir so ’n besonderse geleentheid.”
Die groot belangstelling van ander kunstenaars om deel te wees van die huldeblyk getuig van Theuns se blywende invloed op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
’n Eenmalige viering van ’n legende
Die Theuns Jordaan Tribute in Amsterdam belowe om ’n besonderse eenmalige massa-konsert te wees wat op gepaste wyse die lewe en musiek van die legendariese Theuns Jordaan sal onthou en vier.
Met hierdie internasionale uitbreiding van die tribute-reeks bereik Theuns Jordaan se nalatenskap nou ook die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Europa, wat ’n bewys is van sy blywende invloed op die harte van mense regoor die wêreld.
Kaartjies vir die Theuns Jordaan Tribute-konsert op 9 Augustus by AFAS LIVE in Amsterdam is nou beskikbaar.


