Tiara van Wyk van Caledon is ’n top-10-finalis in Huisgenoot se Mej. Tiener-kompetisie.


Inskrywings vir die Huisgenoot se Mej. Tiener-kompetisie het behoorlik ingestroom, en om as een van die top-10-finaliste aangewys te word, is dus ’n besondere prestasie.

Dié eer het die 17-jarige Tiara van Wyk van Caledon toegeval toe sy deur ’n paneel beoordelaars eers vir die top-30 gekies is en daarna as finalis in die top-10 aangewys is.

“Kom ons doen dit. Dit kan pret wees,” beantwoord Tiara die vraag van Hermanus Times oor hoekom sy ingeskryf het. “Ek en my sussie Aucrecia (13) het ingeskryf en ons was baie opgewonde toe ons hoor dat ons al twee onder die top-30-finaliste is. En nou is ek in die top-10, waaroor ek vreeslik opgewonde is,” sê Tiara.

Tiara, ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Overberg, is lief vir sang en drama. Sy is die bestuurder van die skoolkoor en ook die kaptein van die rasieleiers. By die skool se onlangse Koesterklanke-opvoering was sy by twee produksies betrokke en sy was ook die choreograaf vir twee danse. Sy sorg dat sy fiks bly deur gereeld in die te gimnasium te oefen.

Hoewel drama so sterk deur Tiara se are vloei, wil sy graag ’n marienebioloog word.

“ ’n Kompetisie soos dié gaan nie net oor fisieke skoonheid nie,” sê Tiara. “Ek hou daarvan om ander mense te help. My boodskap aan jong mense is as negatiewe dinge oor jou pad kom, moenie net daarna kyk nie – kyk altyd na die positiewe kant en wat daaruit kan kom,” sê Tiara.

Audenia van Wyk, Tiara se ma, sê: “Tiara is in matriek en het nou baie ondersteuning van ons as gesin nodig. Dit kan baie oorweldigend raak en dit is hoekom ons vir haar sê sy moet nederig bly en glo in dit waarvoor sy staan. Sy moet nooit vergeet waar sy vandaan kom nie, dat sy van ’n klein dorp kom en dat nie almal so bevoorreg is nie.

“Sy doen goed op skool en stel vir haarself mikpunte. Ons druk nie die kinders nie, solank ons weet dat hulle hul beste probeer,” sê Audenia.

Die “appels” val gewis nie ver van die boom nie, want Audenia was in 1995 self ’n top-10-finalis in Huisgenoot se Mej.Tiener-kompetisie en Tiara se ouer suster, Tyra (22), het drama studeer en werk ook as ’n model.

Die publiek kan nou aanlyn stem om die 2024 Mej. Tiener aan te wys.

Om vir Tiara te stem, volg die onderstaande skakel, rol af tot by Tiara se naam en volg die maklike stappe. Stemme sluit op 2 Mei en die wenner sal later in Mei bekend gemaak word.

https://www.netwerk24.com/huisgenoot/hg-junior/mej-tiener-2024-stem-hier-vir-jou-top-10-20240404

You need to be Logged In to leave a comment.