Toernooi besing

Lof stroom in van oor die Westelike Provinsie heen vir die suksesvolle jukskei-opedag wat vroeg in Desember deur die Groenberg-jukskeiklub aangebied is.


Lof stroom in van oor die Westelike Provinsie heen vir die suksesvolle jukskei-opedag wat vroeg in Desember deur die Groenberg-jukskeiklub aangebied is.

Altesaam 26 jukskeispanne van oor die hele Wes-Kaap het deelgeneem, waaronder ook 24 leerders van skole in Hawston en Mount Pleasant.

Volgens dié wat teenwoordig was, is die sukses van die dag te danke aan die voorsitter van die klub, Willie Marais, en ander klublede wat by die reëlings betrokke was.

“Die oggendreën het niemand se entoesiasme gedemp nie. Die dag is aan Sakkie du Toit (88) opgedra.

“Sakkie is ’n jare lange lid van die klub en lede van die Hermanus-Rotariërs, wat ook ’n permanente sonskuiling aan die klub geborg het, was as eregaste saam met hom teenwoordig. Hulle was die voorsitter, Brian Cain, sy gade, Lorraine Cain, sowel as Metcalf Fick, Ferdie en Annette Marais en Keith en Chris Beelders. Onder die eregaste was ook die skoolhoofde van Hawston Primêr, J.J. Henn, en Mount Pleasant Primêr, Lincoln en Bernadine Wildschut,” het Marais gesê.

Die wedstryde is in goeie gees gespeel met Iranaeus van der Merwe, Theuns en Cecil le Roux en Jako Botes die uiteindelike wenners in die A-afdeling. In die B-afdeling het die Westelike Provinsie koning gekraai en in die C-afdeling was dit Struisbaai.

Marais het almal gevra om te let wie die borge van die dag was en hulle mildelik te ondersteun. ’n Tydelike vertoonbord met die name van al die instellings wat pryse geborg het, is aangebring sodat hierdie geleentheid ook vir hulle goeie waarde gebied het.

Die jukskeiseisoen in die Overberg-streek het nog nie ten einde geloop nie en sal in die nuwe jaar voortgesit word met die Awie le Roux-opedag op 13 Januarie in Kleinmond. Daarna sal die voorbereiding begin vir die deelname aan die SA kampioenskap waarby ook van die beste spelers uit die Overberg-distrik sal deelneem.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.