Toestroming van rugbyondersteuners pla

Die klubrugbyseisoen het begin en rugbyspelers en -ondersteuners kan nie wag om na die stadions te stroom om hul gunstelingspanne te ondersteun nie.


Die klubrugbyseisoen het begin en rugbyspelers en -ondersteuners kan nie wag om na die stadions te stroom om hul gunstelingspanne te ondersteun nie.

Maar dié opgewondenheid is nie vir almal beskore nie. Inwoners wat naby Hoërskool Grabouw se sportterrein bly, het hul misnoeë uitgespreek oor Saterdag ná Saterdag se rugbywedstryde en veral die ondersteuners wat hul wangedra.

Met verlede week se derby tussen Safcol en Grabouw-rugbyklub het die motors glo die strate vol gestaan en kon die inwoners nie eens uit hul erwe kom nie. “Ons wil dit duidelik maak dat ons die sportterrein vir almal gun, maar dan moet hulle ons ook in ag neem. Nie net parkeer hulle ons vas nie, maar ná elke wedstryd word hier in die strate gejaag en die motors se enjinrevolusies word opgejaag,” het ’n inwoner van die buurt gesê.

Ander inwoners is ook van mening dat drank misbruik word en kru taal is dan aan die orde van die dag.

“Ons buurtwag kyk na die sportterrein en het al menige keer kwaaddoeners wat die kameras wou steel en koperpype uithaal, in hul spore gestuit. Ons wil net graag hê die ondersteuners moet ons gevoel en privaatheid ook in ag neem.”

Wat die inwoners nog verder ontstel het, is die feit dat die sportterrein ná die wedstryde soos ’n varkhok lyk. “Ruim net op as julle die sportterrein klaar gebruik het, dis al wat ons vra. Al daardie papiere waai in ons tuine en dan is daar nog gebreekte bottels ook wat langs die veld lê,” het een van die inwoners gekla. ’n Ander inwoner se besproeiing het daaronder gely toe ’n motor op sy gras parkeer en sy besproeiingspunte beskadig het.

By nadere ondersoek is gevind dat planne wel gemaak kan word om die verkeer te herlei sodat dit nie in die buurt hoef te wees nie. Oorgenoeg parkeerplek is onder by die velde beskikbaar, wat ook makliker toegang vir die ondersteuners bied.

Volgens Dimitri Jacobs, die voorsitter van Safcol-rugbyklub, was hulle nie die organiseerders van die sportdag nie.

“Ons bied wel die derby later in die jaar aan en sal dan samesprekings met die Theewaterskloof-munisipaliteit oor die aangeleentheid hou sodat ons nie die buurt se mense die harnas in jaag nie,” het Jacobs gesê.

Volgens Jaques Adams, voorsitter van die Grabouw-rugbyklub, gebeur dit darem nie elke Saterdag nie.

“Die derby tussen Grabouw en Safcol is altyd ’n groot gebeurtenis waarby die hele Grabouw betrokke is. Ons neem die klagtes ter harte en sal in die toekoms na oplossings kyk. Die volgende wedstryde is nie so groot nie en al die motors sal dan in die sportterrein kan parkeer,” het Adams gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.