Hermanus Times het op 11 Mei berig oor Mieke Beukes, wat as lid van die Protea-junior toutrekspan vir meisies (480 kg) van 12 tot 22 September aan die wêreldkampioenskap in Nederland deelgeneem het. ’n Paar dae ná die kampioenskap het Mieke en haar span as trotse wêreldkampioene na Suid-Afrika teruggekeer.
Nie net het die Proteaspan die goue medalje verower toe hulle teen Skotland gewen het nie, maar as die HTS Drostdyspan het hulle ’n silwermedalje verower.
By navraag het Mieke gesê: “Dit was nogal baie harde werk en ure se oefen.
“Die hele kompetisie was moeilik, want jy trek teen spanne van oor die wêreld heen, en jy weet glad nie wat hul tegnieke en maniere van trek is nie. Ek het geweet ons kan wen, want ons het baie hard geoefen en ons het ’n baie goeie afrigter, maar op daardie oomblik het ek dit gewis nié verwag nie. Die oorwinning was amazing – daai gevoel van jy weet jy het hard geoefen en dan pluk jy die vrugte daarvan, is ongelooflik, maar dit voel steeds nie real nie.”
Mieke se afrigter, Morné Visser, sê hy is baie trots op die meisies. “Ons het baie hard gewerk daarvoor. Hulle het vier keer ’n week vir twee ure per dag geoefen, met gereelde Saterdag-kompetisies wat gehelp het met die laaste voorbereiding vir die wêreldkampioenskap.”
Oor Mieke sê Visser:” Mieke is nie net ’n uitstekende trekker nie, maar ook ’n rolmodel vir die jonger toutrek-meisies. Haar deursettingsvermoë het gewys sy sit haar alles in om die beste te presteer en die goue medalje te wil gaan haal.”
Mieke se pa, Pieter Beukes van Klipheuwel, Caledon, het haar na Holten, Nederland, vergesel. “Vir my was dit ’n groot eer en voorreg om saam met my dogter te gaan en dat sy ook aan die wêreldkampioenskap deelgeneem het. Dit is nogal ’n baie groot sport in ander lande, terwyl baie mense in ons eie land nie eens weet dat toutrek ’n sportsoort is nie.”
Beukes is met reg baie trots op Mieke en die hele span se prestasie. “Wanneer ons in ’n geselskap weer oor die wen-trek praat, dan begin my hempsknope so een vir een afspring van trots.”