Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het President Cyril Ramaphosa se aankondiging dat vanjaar se algemene verkiesing op 29 Mei sal plaasvind, verwelkom.
Die OVK het aangekondig dat dit nou volstoom sal werk om alle voorbereidings vir verkiesingsdag af te handel. Die Kommissie het voorts hul toewyding en gereedheid om ’n suksesvolle verkiesing te verseker, beklemtoon.
Die aankondiging kom na ’n suksesvolle registrasieveldtog wat die registrasie van oorsese stemgeregtigdes sowel as dié van diegene in korrektiewe fasiliteite en op kampusse ingesluit het. Na hierdie veldtogte is nagenoeg 27.6 miljoen Suid-Afrikaners vir die verkiesing geregistreer.
Mense wat kwalifiseer om te stem het tot Vrydag 23 Februarie om vir die verkiesing te registreer. Mense wat nog nie geregistreer is nie of hul adres moet opdateer, kan hul plaaslike munisipaliteit se OVK-kantore of die webblad registertovote.elections.org.za besoek of via die OVK se WhatsApp-lyn op 0600 88 00 00 kontak maak.
Kiesers moet in die area waar hulle woon registreer en stem. Uitsonderings sal gemaak word vir diegene wat vooraf die OVK verwittig dat hulle op stemdag buite hul distrik sal wees.
Skakel 0800 11 8000, besoek www.elections.org.za of stuur “Hi” via WhatsApp na 0600 88 0000 vir meer inligting.