Die AGS Hermanus se “trolley dash” was ’n reusesukses. Volgens Johan van Loggerenberg was dit groot pret. “Jy besef dit is saliger om te gee as om te ontvang. En dít het ek dié oggend besef,” het Johan gesê. “Ons is baie dankbaar vir Bernard van Niekerk van Gateway Spar, wat een trollie geborg het. ’n Mens besef nie wat dit alles vir die gemeenskap beteken nie.” Foto: Lynn Roux


Dit het menige se hart baie bly gemaak en dis duidelik dat dit saliger is om te gee as om te neem.

Die AGS Hermanus het Woensdag 7 Desember ’n “trolley dash” by Gateway Spar gehad.

Gemeentelede het die strate sedert September ingevaar om kaartjies vir die projek te verkoop. Altesaam R66 000 is ingevorder en die publiek se samewerking was wonderlik.

Bernard van Niekerk van Gateway Super Spar het een trollie geborg en die ander twee is deur die AGS se welsynsdepartement en sending-departement geborg. Verskeie welsynsorganisasies in die dorp en individue word deur die projek gefinansier.

Dit was groot pret, en die wenners het omtrent geskarrel om so veel as moontlik produkte in hul trollies te gooi, maar ’n minuut is so kort – veral as so baie te koop is.

Narina Howard van die Recycle Swop Shop was een van die wenners. Haar projek is goed bekend in Hermanus. Haar vrywilligers het die koopwerk gedoen. Die ander twee was Kulidzuwa James en Talent Mawacha.

Kulidzuwa is ’n ma van twee kinders van onderskeidelik drie en sewe jaar. Sy werk as ’n huishulp in Voëlklip.

Die derde wenner is Talent Mawacha, wat onlangs getroud is. Sy het die inhoud van haar trollie met haar vriendin Sarah Mbirimi gedeel. Hulle werk as kinderoppassers.– Naomi van Loggerenberg

You need to be Logged In to leave a comment.