Genevieve Maans is deel van Grabouw Senior Majorettes en is besig Grabouw se naam hoog te hou.


Ná haar eerste kompetisiedeel­name as ’n senuweeagtige, maar ywerige trompoppie wat trots was om haar laerskool te verteenwoordig, het die destydse graadtweetjie geweet die gogga het gebyt. Sy kon nie wag om by die huis verder aan haar vaardighede te slyp nie. Sy herroep baie aande wat sy met haar selfgemaakte vlag – uit ou lap en ’n stok – in die bed aan die slaap geraak het.

Min het Genevieve Maans geweet sy sou een van haar groot trompoppie-drome danksy die brandende passie as hoërskoolleerder verwesenlik. Dié 18-jarige leerder aan Strand Sekondêre Skool spog nie net met haar trompoppie-kleure nie, maar met die geleentheid om eersdaags die land se vlag by die nasionale en wêreldkampioenskappe te laat wapper.

“Ek het nog altyd gedroom om eendag as verteenwoordiger van my land in my groen Protea-baadjie op die veld uit te marsjeer,” deel die tiener met opgewondenheid oor die geleentheid wat uiteindelik ’n werklikheid is.Maar, Genevieve benodig ’n helpende hand om die koste van die eenmalige geleentheid te dek en ’n hartlike beroep word op Helderbergers gedoen om hul harte en beursies vir ’n goeie doel oop te maak. Die talentvolle trompoppie is hardwerkend, passievol en doelgerig.

Sy wy altyd 110% aan die sport en haar passie daarvoor is onmiskenbaar. Dis hoekom die Grabouw Senior Majorettes-klublid in 2022 haar Boland-kleure in die sport verwerf het en met aanbeveling van haar afrigter, Robin Benjamin, wat haar potensiaal raakgesien het, vir die Suid-Afrikaanse Majorette en Cheerleading Association (Samca) se proewe ingeskryf het. Genevieve het met sukses in die proewe meegeding en haar Samca-kleure in Februarie vanjaar ontvang. Sy is in Maart vir die Proteaspan gekies, wat in September aan die nasionale en wêreldkampioenskappe sal deelneem. Hoewel Genevieve uitsien na die amptelike kleure-seremonie wat later vanjaar plaasvind, werk sy daaraan om haar vaardighede in die aanloop tot die kampioenskappe te verskerp. Intussen reik haar ouers uit na enigiemand vir finansiële ondersteuning om hul geliefde dogter se droom te bewaarheid.  “As ouers het ons besef ons sal nie op ons eie die finansiële mas kan opkom nie, en daarom vra ons hulp van vriende, familie en die publiek in ’n poging om Genevieve se drome te bewaarheid,” verduidelik haar ma, Rachel Maans, wat as ’n versorger by die Strandse tehuis Huis Soeterus werk.

Vir navrae of skenkings, bel Rachel by 073 986 4072. 

You need to be Logged In to leave a comment.