Madeleine Balie van Caledon is as ‘n kleinboer by die departement van landbou geregistreer en sy verbou die afgelope sewe jaar ‘n verskeidenheid groente en kruie in haar groentetuin by Swartberg Sekondêr.
“Ek en die departement van landbou loop al ‘n lang pad saam. Hulle het my finansiering gegee om die toerusting wat ek benodig aan te skaf en Swartberg Sekondêr het hierdie stuk grond aan my beskikbaar gestel,” sê Madeleine.
“Ek het ‘n passie hiervoor. Ek het begin om groente te plant en verkoop nou gereeld van my produkte aan plaaslike winkels. Ek plant deesdae ook kruie soos koljander en pietersielie en hoop om nog kruie soos tiemie en roosmaryn te kweek. Ek gaan nou my somergewasse soos groenboontjies, uie, beet en botterskorsies plant.”
Tydens Hermanus Times se besoek aan Madeleine was haar ertjies ryp en reg om gepluk te word. Sy kon ook spog met reuseaartappels wat sy kort tevore uitgehaal het. Buiten die vars groente lê Madelein ook beet in en maak makataankonfyt – fyn sowel as stukke.
” ‘n Mens kan so baie met groente doen. Wanneer ek spinasie het, bak ek muffins en spinasiebroodjies. Die blare kan ook medisinaal gebruik word.” Sy kweek selfs groente by haar huis. “Die voortuin is vir blomme en in die agtertuin plant ek groente.”





