Twee broers, van wie een minderjarig is, het Maandag in verband met twee moorde in die Bredasdorp- landdroshof verskyn.

Die gemeenskap van Bredasdorp is geruk deur twee grusame moorde wat Vrydagaand binne 10 minute van mekaar gepleeg is. Twee verdagtes, wat volgens berigte broers is, is sedertdien in verband met die moorde in hegtenis geneem.

Francois Abrahams, ‘n boorling van Bredasdorp, het hom sterk op sosiale media uitgespreek oor die aantal moorde wat die afgelope ruk gepleeg is en gesê: “Drie tot vier moorde binne een maand in Bredasdorp is sekerlik rede vir groot kommer en ek doen ‘n beroep op wetstoepassingsowerhede om te verseker dat Bredasdorp nie moordenaars se speelplek sal word nie.”

Dit volg nadat twee mans, onderskeidelik 65 en 20 jaar oud, Vrydagaand tussen 18:45 en 18:55 doodgesteek is. Die ouer man is volgens berigte eerste doodgesteek en die 20-jarige is kort daarna ongeveer 150m van die eerste moordtoneel af vermoor.

Lt.kol. Anneke Durand, die Bredasdorp-polisie se bevelvoerder, het bevestig twee broers is in verband met die moorde in hegtenis geneem en het Maandag op aanklag van moord in die Bredasdorp-landdroshof verskyn. “Twee verdagtes, onderskeidelik 16 en 23 jaar oud, is direk ná die voorvalle in hegtenis geneem. Die verdagtes is broers,” het Durand bygevoeg. Volgens Durand is slegs dié twee moorde die afgelope naweek in Bredasdorp aangemeld.

Die Kaap Agulhas-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Raymond Ross, het in ‘n plasing op sosiale media geskryf: “Die sinnelose daad van geweld het ons gemeenskap geruk … Die verlies van ‘n lewe is altyd ‘n uiterse tragedie en ons staan saam met diegene wat hierdeur geraak is in hul tyd van hartseer. Ek doen ‘n beroep op alle inwoners om te verenig en mekaar te ondersteun. Laat ons voortgaan om saam te werk om te verseker dat ons gemeenskappe veilig is en dat vrede en waardigheid oor geweld sal seëvier.”

Ross het voortgegaan om die polisie geluk te wens met hul vinnige optrede, wat tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei het. “Ons vertrou dat geregtigheid sal geskied en dat die oortreders [vir hul beweerde dade] verantwoordelik gehou sal word,” het Ross bygevoeg.

Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag se provinsiale woordvoerder, het bevestig die twee broers het die afgelope Maandag in die Bredasdorp-landdroshof verskyn. Volgens Ntabazalila word die broers van ‘n Skedule 6-misdryf aangekla en sal die staat hul borgtogaansoek teenstaan.

“Die saak is tot 2 Junie vir verdere ondersoek uitgestel. Die 23-jarige word in die Buffeljags-korrektiewe sentrum aangehou terwyl die minderjarige [elders] in ‘n plek van veiligheid aangehou word,” het hy gesê.

Staan saam teen euwels

Abrahams het ‘n dringende beroep op owerhede gedoen om in die dorp in te gryp om sodoende misdaad hok te slaan.Hy het ook egter die gemeenskap gemaan om ook saam te staan teen euwels in die gemeenskap en om misdaad te stuit.

You need to be Logged In to leave a comment.