Twee broers van Hermanus as wêreldkampioene gekroon tydens kampioenskap

As ons Springbokke nie die wêreldkampioenskap in Frankryk die vierde keer verower het nie, is dit die twee broers van Hermanus wat nie net die Suid-Afrikaanse vlag nie, maar ook die Hoërskool Hermanus se vlag in Bali gewapper het.


As ons Springbokke nie die wêreldkampioenskap in Frankryk die vierde keer verower het nie, is dit die twee broers van Hermanus wat nie net die Suid-Afrikaanse vlag nie, maar ook die Hoërskool Hermanus se vlag in Bali gewapper het.

Hannes en Daniël Grové het Suid-Afrika verlede week by die UIPM se biathle- en triathle-wêreldkampioenskap verteenwoordig.

“Daar was altesaam 450 atlete van 34 lande en die wêreldkampioenskap het in Nusa Dua plaasgevind,” vertel die broers se trotse ma, Zani.

Hermanus Times het op 20 September berig oor die twee seuns wat saam met hul pa, dr. Japie Grové, uitstyg (“Local family in pentathlon”).

En nou het die twee broers dit weer gedoen en kan nie uitgepraat raak oor die ondervinding nie.

Daniël Grové tydens die laser-teikenskiet.

Daniël Grové is as die o.15-triathle-wêreldkampioen gekroon.

Hannes op pad na die wenstreep.

Foto:

Hannes Grové het sy o.17-titel verdedig en is weer as die o.17-wêreldkampioen aangewys.

Foto:

Volgens Zani was Bali baie warm, maar die broers het die hitte aangedurf en hul beste gegee. “Die individuele biathle-kompetisie bestaan uit hardloop, swem en weer hardloop, terwyl die individuele triathle-kompetisie uit teikenskiet, swem en hardloop bestaan. Dit is deel van die moderne vyfkamp, wat ook ’n Olimpiese sport is,” verduidelik Zani.

Daniël is as die nuwe o.15-triathle-wêreldkampioen gekroon en het ook die o.15-gemengde afloskompetisie saam met Dune Haasbroek van George gewen. “Die o.15-groep is baie sterk en die Suid-Afrikaanse o.15-span het ook met die goue medalje weggestap.”

Ouboet Hannes het sy o.17-titel verdedig en is weer as die o.17-wêreldkampioen aangewys.

Hannes het verder ’n silwermedalje in die o.17-gemengde aflos saam met Marelie Duvenhage van George gewen en die Suid-Afrikaanse o.17-span het ook silwer losgeslaan. Verder het hy ’n derde plek in biathle gewen en die o.17- Suid-Afrikaanse biathle-span het die goue medalje gewen.

Die Hoërskool Hermanus het die broers op sy Facebookblad met hul uitsonderlike prestasies gelukgewens en gelukwensings het van oral oor ingestroom.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.