Twee mans wat weens die moord op Hans Wessels (71), ’n afgetrede prokureur aangekla is, gaan moontlik ’n pleitooreenkoms met die staat sluit.
Wessels se lyk is op 27 Januarie 2021 in sy vakansiehuis in Kortstraat ontdek nadat die twee in Wessels se Porsche Cayenne buite Laingsburg voorgekeer is. Hulle het die polisie na Wessels se vakansiehuis gelei.
Denver Hendricks en Johnico Pretorius het al telkemale in die hof verskyn en ’n aanlyn petisie is in Junie verlede jaar geopen. Meer as 2 400 mense het die petisie geteken om te verhoed dat die twee borgtog kry.
Die staat het Vrydag in ’n voorverhoor by die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra die saak teen Pretorius en Hendricks moet weens pleitonderhandelinge uitgestel word.
’n Kennis van Pretorius het hom as ’n kleptomaan beskryf nadat hy gereeld artikels gevat het wat nie aan hom behoort nie.
Eric Ntabazila, Wes-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die beskuldigdes het regsverteenwoordigers. “Pretorius en Hendricks word aangehou. Die saak is tot 22 April vir konsultasie uitgestel.”