Met die verwoestende brande wat die hele Overberg geraak het, is dit kommerwekkend om te weet dat brandstigting die hoofoorsaak van die rampe is.
Op 18 Februarie is twee verdagtes in Villiersdorp in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ’n brand by die oorlaaistasie in Villiersdorp gestig het. “Die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) is bekommerd oor brande wat deur brandstigting veroorsaak word. Sondag is daar twee verdagtes vir brandstigting in hegtenis geneem en hulle het op 20 Februarie in die landdroshof verskyn. Vandalisme en brandstigting word ten sterkte veroordeel en nie net veroorsaak dit skade aan die infrastruktuur nie, maar dit het ook ’n invloed om inwoners,” het ’n woordvoerder van die TWK gedeel.
Volgens die woordvoerder werk die munisipaliteit nou saam met wetstoepassing om die skuldiges te vang en moedig hulle die inwoners aan om sulke voorvalle dadelik aan te meld.
Vir meer inligting en om onwettighede aan te meld, kontak 0800 21 4730.