Die 300 g-dwelms (vermoedelik tik) met ’n straatwaarde van R60 000 wat op 5 Julie tydens ’n patrollie in ’n minibus op die R43 gevind is.


Misdadigers kry gereeld bloedneus tydens misdaadoptredes oor die Overberg heen.

Tydens die skoolvakansie het misdadigers weer ’n bloutjie geloop toe die Overstrand-reaksie-eenheid toegeslaan het.

“Die Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassers het Vrydag 5 Julie patrolliewerk op die R43 gedoen en ’n minibus by Honingklip voorgekeer en deursoek. Die beamptes het gesien hoe een van die passasiers ’n sak onder die sitplek probeer wegsteek en by nadere ondersoek is 300 g dwelms (tik) ter waarde van R60 000 gekry,” het die Overstrand-munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê.

Volgens ’n woordvoerder van die Caledon-polisie is ’n 30-jarige man in hegtenis geneem en hy het op 8 Julie in die Caledon-landdroshof verskyn. “Die dwelms word nou eers na ’n laboratorium geneem om te bepaal of dit wel tik is, en daarna sal ’n hofdatum vasgestel word,” het die woordvoerder gesê.. Die samewerking tussen die polisie en veiligheidsmaatskappye het weer vrugte afgewerp. Veiligheidswagte van Seraphim Security het op 9 Julie op ’n huisbraak-alarm in Vermont gereageer en dadelik Overstrand-wetstoepassing se honde-eenheid in kennis gestel. “Die een span van die honde-eenheid het die omgewing gefynkam terwyl nog ’n span kuslangs tot in Hawston na die verdagtes gesoek het. Nog ’n span het aandag aan die R43 gegee. Tydens die soektog het hulle op ’n verdagte afgekom met gesteelde goedere in haar sak. Die verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere ter waarde van R6 000,” het O’Neill gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article