Voortdurende operasies om bendegeweld aan te spreek, het vrugte afgewerp toe die polisie van Gansbaaitwee beweerde bendelede vir die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens in hegtenis geneem en op een vuurwapen beslag gelê het. Luitenant-kolonel Winston Coetzee, Gansbaai-polisie se bevelvoerder, berig dat beamptes Vrydag 13 Mei ’n klagte van bendegeweld in Blompark ontvang het. “Die beamptes het twee verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op ’n ongelisensieerde vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is,” het Coetzee bevestig. Die twee verdagtes, onderskeidelik 19 en 23, is na bewering bendelede. Die verdagtes het Maandag 16 Mei op ’n aanklag wat verband hou met die oortreding ingevolge die Vuurwapenwet, in die Hermanus-landdroshof verskyn. Coetzee het die beamptes gelukgewens met die inhegtenisnemings en die beslaglegging van die vuurwapen wat moontlik in die uitvoer van ernstige misdade gebruik was. “Ek wil ’n streng waarskuwing aan inwoners rig wat misdadigers huisves en hul wapens en dwelms versteek dat hulle in hegtenis geneem sal word en van bystand aan misdadigers aangekla sal word,” het Coetzee bygevoeg.


Twee vas oor vuurwapen

You need to be Logged In to leave a comment.