Saterdag het die meeste spanne hul tweede wedstryd van die tweede ronde van die Grootuitdaag-reeks gespeel. Geen verrassings is opgelewer nie. Botla Fire, wat Saterdag teen Bredasdorp Rangers gespeel het, is tweede op die punteleer nadat hulle moes diep delf om die Rangers 27-22 te wen. Foto’s: Sydney Armoed

Die begin van die tweede ronde van die Grootuitdaagreeks het vir die meeste spanne in die Overberg die afgelope Saterdag afgeskop. Soos verwag is, het geen verrassings opgeduik nie en die drie beste spanne het die dag met wegholoorwinnings afgesluit.

Saterdag se wedstryde was net soos dié van verlede week vol aksie, maar sonder enige verrassings. Die span wat boaan die punteleer is – Safcol van Grabouw – was te sterk vir Genadendal. Die wedstryd, wat in Genadendal gespeel is, is deur die appelboere oorheers en Safcol het maklik 45-24 gewen.

Botrivier, wat tweede op die punteleer is, is die skrik op die lyf gejaag met die Bredasdorp Rangers wat Saterdag met nuwe oorgawe gespeel het. Botla Fire moes tot die einde toe vir ‘n oorwinning veg en het die wedstryd 29-22 gewen. Kleinmond het maklik met Villiersdorp afgereken en 55-18 gewen.

Die span wat vanjaar vriend en vyand verras het, Universals Stanford, het ‘n wegholoorwinning teen die Sea Hawks gehad en 51-14 gewen. Riviersonderend het die onderspit teen Caledon gedelf (10-31) terwyl Grabouw 15-23 teen Hawston Skrik vir Niks vasgeval het. Die wedstryd tussen Grabouw en Hawston het reaksie op sosiale media ontlok toe die wedstryd, wat in Grabouw gespeel is, vir ‘n wyle gestop moes word nadat ‘n bees hom op die veld tuisgemaak het. Facebookgebruikers het grappenderwys gesê dis die Springbok-stut, Ox Nché.

Nog ‘n kwessie wat getroue ondersteuners dwars in die krop steek, is die koop van spelers en veral toe omtrent die hele bestuurspan en spelers van Caledon aan die begin van die jaar na Botla Fire oorgeloop het. Safcol, wat ook bekend is dat hy spelers van ander klubs koop, het ‘n sterk pak spelers in sy geledere nadat hy inkopies gaan doen het. Hy pronk ook met ‘n nuwe hoofborg, HWM Consultancy, wat op 1 Junie by hom aangesluit het.

Nie almal is ten gunste van die koop van spelers – veral op klubrugbyvlak – nie, en soos een Facebookgebruiker geskryf het: “Klubrugby in die Overberg is nie meer ‘n plesier nie.

“Die meeste van die tyd ken die mense nie eens die spelers op die veld nie. Wat het geword van speel vir jou klub met daai trots van dis my ‘komvandaan’? Ek trap in my voorouers se voetspore. Ek is my dorp se trots. Ek trap op niemand se tone nie; dis bloot feite. As jou klub nie geld het nie, is jy niks. Spelers word links en regs gekoop en huiskinders wat net so hard speel, moet gratis speel. Dis nie reg nie. [Ek] wens klubrygby kan weer wees soos dit was.”

•  Saterdag speel die Sea Hawks teen Genadendal, Safcol teen Riviersonderend, Caledon teen Bredasdorp, Hawston teen Villiersdorp, Stanford teen Kleinmond en Botrivier teen Grabouw.

dummy text

You need to be Logged In to leave a comment.