Die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit deel sy Kersboodskap met die inwoners.


Ek wil aan die einde van 2022 ’n verklaring oor die bedoeling van Kersfees maak. Kersfees is ’n tyd om fees te vier, om te lewe en om gawes te deel. Kersfees is ’n simbool van ’n liefde wat so groot is, dat niemand en niks dit ooit kan nadoen nie. Want so lief het God ons dat Hy Sy seun gegee het sodat nie een van ons, wat Jesus as redder en Saligmaker aanvaar, verlore sal gaan nie.

Met dié daad het God ons gered en vir ons die ewige lewe gegee. Ons lewe in ’n gebroke wêreld van ongekende swaarkry en pyn omdat ons God se reddingsdaad miskyk of misverstaan. Vanjaar vra ek u om by die baba in die krip en Jesus aan die kruis te begin, want so lief het Jesus Sy Vader en ons dat Hy ter helle neergedaal het om die bose te oorwin. 

Ek sou alles wou doen om die grootsheid en werklikheid van Jesus op so ’n wyse aan die mense om my en my gemeenskap oor te dra dat hulle gered is. Ek deel dié gedagtes van die betekenis van Kersfees met u, omdat ons net een saak op aarde moet vermag: om gered te word en soos die wat gered is te leef. Kersfees is ’n tyd vir vrede; ’n tyd vir eensgesindheid; ’n tyd vir samesyn; ’n tyd om bande met ons geliefdes te herstel en bande te bou.

Dit is ook ’n tyd om te bepaal of ons regtig doen wat ons moet doen; of ons onsself met die regte dinge besig hou – soos om God en die kroon van Sy skepping, die mensdom, te dien. Dit is ’n tyd om te hergroepeer en te herprioritiseer en ons lewe in pas te kry met ons Goddelike taak. Ek bid dat u dié Kersfees sinvol sal benut en dat u hart sal swel van liefde vir diegene om u. Ek bid vir u oneindige liefde en genade en vrede. 

You need to be Logged In to leave a comment.