Raadslede van die Theewaterskloof-munisipaliteit is gereeld in die nuus – as dit nie is vir tafels wat omgekeer word nie, dan is dit oor ’n bekgeveg tussen verskillende raadslede.
Maar die Theewaterskloof-munisipaliteit het onlangs sy nuwe munisipale bestuurder aangestel.
“Boy Manqoba Ngubo is verlede maand as die munisipale bestuurder vir ’n maksimum van vyf jaar aangestel. Die pos is nasionaal geadverteer en altesaam 10 aansoeke is ontvang. Onderhoude is met die kandidate gevoer om die regte verteenwoordiger aan te stel,” het die Theewaterskloof-munisipaliteit in ’n verklaring gesê.
Ngubo is tydens die raadsvergadering in Oktober as die nuwe munisipale bestuurder aangekondig en die burgemeester, Kallie Papier, en speaker, Derick Appel, was van die eerstes wat hom gelukgewens het.
“Ngubo was van Junie af die waarnemende munisipale bestuurder en het 10 jaar ondervinding in die private sektor sowel as in die regering. Sy suksesse om langtermyndoelwitte te behaal, sowel as sy visie, is ’n aanwins vir die munisipaliteit. Hy was ook nou betrokke om die waterprobleme in Caledon op te los en die inwoners van Grabouw by te staan ná die brand wat baie dakloos gelaat het.
“Ons glo sy insae sal ’n groot bydrae tot ’n beter munisipale gebied lewer en dat hy die lewensgehalte van ons inwoners gaan verbeter,” het die verklaring gelui.