Ná twee maande het die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) uiteindelik ’n onderburgemeester, speaker en raadslid aangewys nadat GOOD in September die lidmaatskap van John Michels (speaker), Stanley Shuma (onderburgemeester) en Jennifer McKenzie (raadslid) opgeskort het (“GOOD skop topbestuur by munisipaliteit uit”, Hermanus Times 12 September 2024).
Die volgende GOOD-lede is op ’n spesiale raadsvergadering, wat op 12 November gehou is, in die poste aangestel: Weldon Wells van Villiersdorp as speaker, Cynthia Clayton van Myddleton as die nuwe onderburgemeester en Henry Linnerts van Grabouw as die raadslid in McKenzie se plek.
Ná die verkiesing het die burgemeester, Tienie Zimmerman, die nuwe aanstellings verwelkom en gesê hy sien daarna uit om saam met hulle te werk.
Sosiale media het behoorlik gegons oor die aanstellings en veral oor Cynthia Clayton, wat glo in Kleinmond woon en nie in die TWK- munisipale gebied nie. Volgens van die inwoners is die geskiedenis besig om hom te herhaal – Mary Liebenberg, die voormalige burgemeester, was ook nie ’n inwoner van TWK nie, maar van die Paarl. Die voormalige burgemeester en speaker van die TWK, John Michels, sê op Facebook: “Toe ander partye mense van buite die TWK bring om in die raad te dien, toe kry jy nie ’n stop aan die DA-geraasmakers wat vir ons mense wil sê hoe verkeerd dit is nie.”
Maar die gerugte is van die hand gewys en die raad het bevind dat Clayton nie net in Myddleton grootgeword het nie, maar ook daar woon.Finansiële ingryping
Intussen het die Wes-Kaapse minister vir finansies, Deidré Baartman, ook verlede week ’n amptelike kennisgewing vir finansiële ingryping by die TWK uitgereik.
Volgens die verklaring is glo aan die nasionale tesourie se afdeling geskryf om hulle te vra om ’n dringende plan vir die munisipaliteit saam te stel.
Van die finansiële probleme wat geïdentifiseer is, is onder meer inkomste-invordering, agterstallige betalings, voorwaardelike toelaes, ramphulpfinansiering, kontantvloei en uitgawes.
Volgens die persverklaring is die doel van die ingryping om nie net vure dood te slaan nie, maar ook om ononderbroke dienslewering aan inwoners te verseker terwyl die geldsake reggeruk word.
Zimmerman het as die burgemeester lig op die finansiële ingryping gewerp deur te sê die TWK verseker inwoners van sy verbintenis tot deursigtigheid en aanspreeklikheid ná die aankondiging deur Baartman en die Wes-Kaapse minister Anton Bredell oor die ingryping.
“Hierdie proaktiewe maatreël sal die munisipaliteit se finansiële posisie versterk en verseker dat dienste steeds doeltreffend gelewer word. Konsultasieprosesse het verlede week begin en die provinsiale tesourie het die nasionale tesourie amptelik versoek om ’n finansiële herstelplan vir die TWK op te stel,” het Zimmerman in ’n persverklaring gesê.
Volgens Zimmerman sal die proses glo binne die volgende vier maande voltooi wees. “Sodra die finansiële herstelplan gefinaliseer is, sal die munisipaliteit dit begin implementeer met die leiding en ondersteuning van sleutelvennote, soos die provinsiale tesourie, die nasionale tesourie, die departement van plaaslike regering en die departement van samewerkende regering en tradisionele Sake (CoGTA).
“Gereelde assesserings sal plaasvind om die munisipaliteit se vordering te monitor en om te verseker dat die plan in pas is met die doelwitte.”. Intussen het dit aan die lig gekom dat die TWK dalk een van die dae sonder elektrisiteit gaan sit aangesien hy Eskom glo R25 miljoen skuld. Die TWK is ook die enigste provinsiale munisipaliteit wat nie deel is van die nasionale skuldverligtingsprogram nie en volgens inwoners is hulle bekommerd oor die slegte nuus wat die reeds sukkelende munisipaliteit in die gesig staar.