Die Theewaterskloof-munisipaliteit is as die sesde beste munisipaliteit in sy kategorie aangewys.


Vir die Theewaterskloof-munisipaliteit is dit belangrik om sy inwoners eerste te stel.

Dit is volgens die koalisie-regering wat in 2021 dié belofte aan sy inwoners gemaak het. Volgens die jongste bestuursprestasie-indeks (GPI) blyk dit dat die TWK-munisipaliteit sy belofte nagekom het en ’n sesde plek onder klein munisipaliteite verwerf het.

“Ons is geweldig trots op die prestasie aangesien ons teen 99 ander munisipaliteit meegeding het,” het die woordvoerder van die TWK-munisipaliteit gesê.

In meegaande notas verduidelik Good Governance Africa (GGA) dat die 2021- munisipale verkiesing unieke uitdagings meegebring het.

Die GGA verduidelik dat bestaande stelsels nooit met koalisieregerings te doen gehad het nie en dit het weer tot veranderings gelei wat ’n invloed op doeltreffendheid en volhoubaarheid het, en dit is waarom hulle besluit het om die uitwerking van koalisieregerings op munisipaliteite te ontleed.

Volgens die GPI word munisipaliteite aan die volgende vyf afdelings gemeet: administrasie en bestuur, ekonomiese ontwikkeling, leierskap en bestuur, beplanning: monitering en evaluering, en dienslewering, wat die meeste getel het.

Die munisipale bestuurder, Wilfred Solomons-Johannes, het ook die uitslag verwelkom. “Om deur ’n koalisie regeer te word, is uitdagend, dog lonend,” het Solomons-Johannes gesê en bygevoeg die bevindings stem ooreen met die munisipaliteit se ervarings in hierdie verband. “Ons grootste bate is goeie politieke en administratiewe leierskap, en daarvoor is ons dankbaar. Ons was ernstig toe ons ons verbind het tot uitsonderlike administrasie en bestuur, volhoubare ekonomiese ontwikkeling, etiese en uitstekende leierskap en bestuur, volhoubare beplanning, monitering en evaluering, en die beste dienslewering wat die mense in die munisipale gebied vir baie jare ervaar het,” het hy afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.