TWK oorhandig Titelaktes

Die meeste mense droom daarvan om eendag hul eie huis te besit.


Die meeste mense droom daarvan om eendag hul eie huis te besit. Om daardie titelakte in die hande te kan hou. Vir ‘n handjievol inwoners van Caledon en Tesselaarsdal is daardie droom Vrydag 4 Februarie bewaarheid toe die TWK- munisipaliteit se departement van menslike nedersetting titelaktes aan begunstigdes oorhandig het.

Van die 71 titelaktes wat uitgereik is (59 vir Riemvasmaak, Caledon en 12 vir Tesselaarsdal), het 29 inwoners Vrydag hul titelaktes tydens ‘n oorhandigingsseremonie ontvang. Verskeie begunstigdes kon weens werksverpligtinge of persoonlike omstandighede nie tydens die oorhandiging teenwoordig wees nie. Derick Appel, speaker van TWK-munisipaliteit, het aan Hermanus Times genoem dat 30 van Caledon se begunstigdes en agt van Tesselaarsdal ongelukkig reeds oorlede is, maar dat die titelaktes wel in ‘n later stadium aan naasbestaandes oorhandig sal word.

In toesprake voor die oorhandiging het die burgemeester Kallie Papier, onder-burgemeester John Michels en raadslid Monwabisi Raymond Nongxaza van die menslike nedersetting-portefeulje die opgewonde ontvangers geluk gewens, maar ook sterk aangeraai om nie hul eiendomme nou te verkoop nie, om versekering uit te neem asook om ‘n testament te laat opstel om moontlike latere twis en stryd te vermy.

Die Hermanus Times het met van die gelukkige en opgewonde nuwe huiseienaars gesels. Trudene Daniels sê: “Ek voel baie geëerd dat ek my transportakte kon kry. Ek wag al ses jaar daarvoor en ek het gereeld by die munisipaliteit navraag gedoen daaroor. Ek was so bly en trots toe ek gehoor het dat ek nou uiteindelik die titelakte gaan ontvang. Ek dank die Vader daarvoor.”

Pauline Beyers, wat ook al ses jaar wag, sê: “Ek voel baie gelukkig, want ek wag nou al so lank daarvoor.”

Lilian Makhanda sê: “Ek is so opgewonde. Ek wag al amper agt jaar en het eintlik al vergeet dat ek nie ‘n titelakte het nie. Toe ek die kennisgewing kry kon ek nie wag om my titelakte te kom haal nie.”

Vuyisile Mdokwana sê: “Joh joh joh! Dit was te lank, amper agt jaar. Ek is so opgewonde. Ek gaan uiteindelik ‘n huiseienaar wees.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.