Na aanleiding van die artikel verlede week in Hermanus Times oor die beweerde ongerymdhede by die Theewaterskloof-munisipaliteit, het die woordvoerder die volgende antwoorde gegee:


“Die m
unisipaliteit het kennis geneem van ’n brief van die provinsiale regering se departement plaaslike regering en die aantygings teen die owerheid, wat daarin verwoord is.

“Die munisipaliteit beskou die aantygings in ’n ernstige lig en is in die proses om antwoorde daarop voor te berei. Die munisipaliteit betreur dit dat die provinsiale brief aan sosiale medianetwerke gelek is omdat die saak, volgens die munisipaliteit, sub judice is en nie in die media moet uitspeel nie.

“In terme van die sub judice-benadering gaan die owerheid nie op die aantygings reageer alvorens die inter-regeringsinteraksie voltooi en die sake hanteer is nie. Na afloop daarvan sal die owerheid ’n media-verklaring oor die minister van plaaslike regering in die Wes-kaap se brief en die aantygings daarin uitreik. Intussen doen die owerheid ’n beroep op die media en sosiale media om toe te laat dat die prosesse hul gang gaan en nie daaroor te bespiegel nie.

“Betreffende die aanstel van ’n sekuriteitsverskaffer en wagte vir raadslede, bevestig die munisipaliteit dat dreigemente teen bepaalde raadslede en ampsdraers vanuit bepaalde oorde ontvang is. Die owerheid se primêre fokus in dié verband is om die veiligheid van sy raadslede te verseker. Hoewel die oorsprong en inhoud van die dreigemente steeds ondersoek word, gaan die munisipaliteit die verantwoordelike en wettige ding doen, en dit is om raadslede te beveilig.

“Gegewe die voorkoms van geweld teen politici in Suid-Afrika kan die owerheid nie die dreigement ignoreer nie en was die aanstelling van ’n sekuriteitsverskaffer nodig. Die owerheid kan nie nou op die koste van die sekuriteit kommentaar lewer nie, omdat die erns en omvang van die dreigemente sal aantoon hoe lank die beskerming en die omvang daarvan nodig sal wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.