Die Theewaterskloof-munisipaliteit het vyf raadslede op 23 Mei met die eerbewys van raadsheer-status vereer.
Dié besondere eer – die eerste onder die koalisie se leierskap – is aan die volgende raadslede toegeken: die Speaker, Derick Antony Appel; die uitvoerende burgemeester, Mary-Sheila Liebenberg; die onderburgemeester, John Robert Michels; die raadslid Monwabisi Raymond Nongxaza en die raadslid Samuel Fredericks.
Dié toekenning beklemtoon die raadslede se toewyding, diens en bydrae aan die gemeenskap.
Appel sê in reaksie hierop: “Ná jare van diens waarin jy jouself beskikbaar stel om jou gemeenskap te dien, waardeer ek die toekenning en die erkenning. Gewoonlik word die raadsheer-status ná 10 jaar diens toegeken, maar dit kan vroeër wees indien jy vir ’n uitvoerende posisie verkies word.”
Appel noem ook aan Hermanus Times: “Die manier hoe die toekennings vanjaar deur die TWK gedoen is, is nuut. Dit is baie goed gedoen met sertifikate en medaljes wat aan die raadshere oorhandig is. Ek waardeer die munisipale bestuurder, die administrasie en die burgemeester se leierskap.”
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Mary Liebenberg, sê: “Met alle eerlikheid – dit is net nog ’n titel, maar, soos ek altyd sê, selfs ‘burgemeester’ is ’n titel. Vir die administratiewe personeel en raadslede sê ek altyd ek is nie burgemeester nie, ek is Ma Mary. Die raadsheerskap is net nog ’n titel, maar die persoon is nog steeds Ma Mary. Ek ontken nie dat dit ’n groot eer is nie, maar ek wil dit net baie duidelik stel: Vir my, Mary Liebenberg, is dit net ’n titel, niks meer nie.”
Raadsheer Raymond Nongxaza sê: “Dit was ’n lang reis. Ek is al sedert 2011 ’n raadslid en jy moet lojaal en gedissiplineerd wees. Dit is vir my ’n groot eer om as raadsheer vereer te word en erkenning te kry vir dit wat ek gedoen het.”


