Die gort is behoorlik gaar in die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK), en nie net gons dit op sosiale media nie, maar beskuldigings en dreigemente word oor en weer rondgeslinger.
Die TWK het op 16 November ’n klagte teen die eienaar van Tano’Vera aangemeld. Tano’Vera dryf ook handel as tanoISP, wat werk vir die Caledon-polisie doen. Volgens die munisipale bestuurder van die TWK, Wilfred Solomons-Johannes, hou die klagtes verband met beweerde dade van bedrog, korrupsie en geldwassery.
“Die klagtes volg op bewerings van ’n fluitjieblaser oor beweerde korrupte tenderkontrakte, wat na bewering oor ’n tydperk van 10 jaar aan die genoemde entiteit toegeken is,” het die persverklaring gelui.
“Die munisipaliteit beskou die bewerings in ’n baie ernstige lig en sal daarna ook die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) en die eenheid vir georganiseerde misdaad van die Nasionale Vervolgingsgesag, daaroor inlig.”
Volgens die munisipaliteit doen hy ook ’n beroep op die genoemde owerhede om die beweerde korrupte tenderkontrakte dringend te ondersoek aangesien die bewerings van korrupsie ernstig is en dienooreenkomstig hanteer moet word.
“Die munisipaliteit het ’n uiters bekwame span vaardige en gespesialiseerde forensiese kundiges ontplooi om die ondersoek-owerhede met die voorvalle van beweerde bedrog, korrupsie en geldwassery te ondersteun. Die TWK sal geen bedrog en korrupsie duld nie, en indien sulke optrede onder die munisipaliteit se aandag gebring word, sal die plaaslike regering daarvolgens optree,” het die persverklaring verder gelui.