Waarom het jy besluit om af te tree as voorsitter van skolerugby? Ek het aan die einde van 2018 met vervroegde pensioen afgetree. Volgens die Boland-rugbyunie se hoërskole se grondwet moet jy ’n aktiewe onderwyser wees om in die hoërskole se bestuur te dien.
Hoe lank was jy voorsitter van skolerugby?
Ek was voorsitter van November 2011 tot en met 9 November 2021.
Vertel ons meer van jou loopbaan.
In 2001 kom my groot oomblik in BHS-rugby toe ek as spanbestuurder gekies word vir die Boland-Langeberg se o.16-span. In 2002 was ek die Boland-Langeberg se o.18-spanbestuurder saam met Sammy Horne en Johan de Jager. By die toernooi wat by HTS Drostdy aangebied is, word ek gekies as Wes-Kaap se o.18-spanbestuurder ná die 2002-Cravenweek-toernooi in Pietermaritzburg. Hierna was ek ’n spanbestuurder vir die volgende Boland-hoërskolespanne: o.16-Grant Khomo (2003-2005), o.18-akademiespan (2006-2009), o.18-Cravenweekspan (2010-2011). Die o.18-Cravenweek span was die laaste Boland-span wat al drie sy wedstryde kon wen.
Vir watter BHS en Boland-rugbyspanne het jy al as spanbestuurder opgetree? Ek was selfs bevoorreg om die BHS en Boland-rugby by die volgende spanne as spanbestuurder te verteenwoordig: SA o.18-akademiespan (2009) en o.18-skolespan vir die internasionale wedstryde teen Wallis, Engeland en Frankryk. Ek is die enigste persoon wat as spanbestuurder vir albei SA-spanne kon optree.
Watter posisies het jy al beklee in BHS se uitvoerende bestuur? Ek het op die BHS-uitvoerende bestuur gedien sedert 2003 in die volgende posisies: sekretaris (2003-’07), tesourier (2007-’11) en voorsitter (2011-’21).
Waarom skolerugby? Ek het ’n groot passie vir rugby en om vir leerders geleenthede te skep en was van mening dat ek my passie tot die beste op skolerugby kon uitleef.
Wat gaan jy die meeste mis van jou voorsitterpos by skolerugby? My rugbyvriende en die bywoon van nasionale rugbyweke. Asook kameraadskap van rugbyvriende en rugbyproewe en -vergaderings.
Waar het jou liefde vir rugby ontstaan? Vandat ek by Mount Pleasant Primêr begin rugby speel het – later tydens my kollegejare, begin van my onderwysloopbaan en dan later ook by Atlantics-rugbyklub.
Wanneer het jy betrokke geraak by skolerugby? Aan die begin van my onderwysjare as rugbyafrigter by Swartberg Sekondêr (Caledon).
Het jy ’n ander werk ook of is die voorsitterpos by skolerugby ’n voltydse pos? Ek was vir 35 jaar ’n onderwyser – van 1984 tot 2018 van die volgende skole, Swartberg Sekondêr (1984 tot 1993) en Hawston Sekondêr (1994 tot 2018).
Wat dink jy van skolerugby in die Overstrand? Ek is van mening skolerugby is van goeie standaard, maar kan nog baie verbeter by sekere skole. Skole moet gedurig probeer om vir leerders beter rugbygeleenthede te skep.
Wat is volgende op jou pad? Ek is tans besig met werwing vir o.15-spelers vir SA Rugby en hoop om dit tot die beste van my vermoë te doen en ten volle uit te leef.