Citizen Leader Lab, ’n organisasie wat leiers oplei om ’n verskil in die samelewing te maak, het onlangs ’n tweede groep Xhuma-studente van die Unversiteit van Gallen in Switserland in die Overberg verwelkom.
Die Xhuma-projek is in 2012 begin en is ’n finansiëlegeletterdheidsprojek wat deur die internasionale meestersgraadstudente van die Universiteit van Gallen in Switserland gedryf word.
Een van die toppresterende skole in die Overberg, De Rust Futura Akademie, was onlangs die gasheer vir die oorsese studente.
Die werksessies wat aangebied is, is onder meer ’n sessie vir die graad 9-leerder oor hoe om jou geldsake te bestuur. Dit het die leerders nie net meer oor finansies geleer nie, maar ook oor hoe om hul geld te bestuur en hoe belangrik dit is om te spaar.
Die Xhuma-studente het vanjaar ook ’n loopbaan-ekspo vir die graad 9-leerders gehou, waar plaaslike ondernemings en staatsdepartemente soos die landboudepartement, die polisie, paramedici asook die nood-en-reddingsdienste leerders meer oor die verskillende loopbaankeuses ingelig het.
Meer as 60 ouers het vir ’n graad 9-ouervergadering opgedaag om die besoekende studente te ontmoet.
Dit was egter nie net die graad 9-leerders wat by die studente baatgevind het nie – die matrikulante het ’n praatjie bygewoon wat hulle meer ingelig het oor die naskoolse lewe by universiteite of ander tersiêre instansies. Tydens dié sessie is 30 leerders geïdentifiseer wat die mentorskapprogram, wat deur die Golden Key Club aangebied word, te volg. Die mentors (almal studente van die Universiteit Stellenbosch) gaan gereeld met die leerders vergader om hulle vir volgende jaar se studies voor te berei.
Die besoekende studente van Duitsland, Taiwan, Amerika, Roemenië, Switserland en Oostenryk kon nie uitgepraat raak oor die natuurskoon van die Elgin-vallei nie. Hulle het nie net die geleentheid gekry om verskillende wynplase te besoek nie, maar ook meer geleer oor Kromco en Abagold in Hermanus.
Volgens Jessica Batts van Citizen Leader Lab het die skool, onderwysers, leerders en selfs ouers die studente met ope arms verwelkom en gespog oor al die “skatte” wat die Elgin-vallei het.
Die skoolhoof, Wandred Theunis, het ook sy dank teenoor almal uitgespreek en sê hulle voel geëerd om deel van die program te wees.