Van jong lat tot Bul

Hulle is steeds in die sewende hemel nadat hul seun, wat dié jaar maar in graad 12 is, ’n kontrak by die Blou Bulle geteken het.


Hulle is steeds in die sewende hemel nadat hul seun, wat dié jaar maar in graad 12 is, ’n kontrak by die Blou Bulle geteken het.

Paddy en Emerentia Damon van Grabouw se telefone hou nie op met lui nie nadat die nuus bekend gemaak is dat Michail vir die Blou Bulle gaan speel. “Ons is eintlik Stormers-ondersteuners; my vriende spot ons en sê ons is nou draadsitters en ons moet kies wie ons gaan ondersteun, maar ons gaan ons seun ondersteun,” vertel Paddy.

Michail het ’n nederige begin gehad. Hy was as laerskoolkind ’n leerder aan die Hoërskool Grabouw, waar hy veral in atletiek uitgeblink het en gereeld in die Boland-atletiekspan opgeneem is. Hy het in hekkies uitgeblink, maar sy hart het nog altyd by rugby gelê en hy het hard gewerk om in dié sport raakgesien te word.

Dit was nie lank nie of van die groter skole het Michail raakgesien en toe hy in graad 9 was, het die Hoërskool De Villiers Graaff hom ’n beurs aangebied.

“Michail is in die laerskool nooit vir die Cravenweekspan gekies nie, maar in die hoërskool het hy wel die Iqhawe-ontwikkelingrugbyspan gehaal, en dit was nie lank daarna nie toe Hoërskool Garsfontein van Pretoria onderhoude met van die spelers gehou het. Ons moes ’n kort video maak van Michail se prestasies en Garsies het hom toe genader. Ons het binne ’n dag gehoor hy het ’n beurs by Garsies gekry. Dit was vir ons moeilik om ons seun so ver te stuur, maar die skool kyk goed na ons kinders wat van ander provinsies af kom, en dit stel ons gerus,” sê Paddy.

Michail is tuis op enige posisie in die agterlyn, maar dis op heelagter waar hy sy merk gemaak het. Volgens sy pa was dit altyd sy droom om eendag skrumskakel te speel, maar met sy rustige geaardheid en kalm persoonlikheid pas die heelagterposisie hom soos ’n handskoen.

Garsies, of “die Bere” soos hulle bekend staan, is ’n rugbyskool in die noorde waarmee rekening gehou moet word. Dit is waarom Paddy so bly was die skool het sy seun ’n beurs aangebied en hom só ’n geleentheid gegee het wat ander skole in die Boland hom nie wou gee nie. “Dit is ook baie interessant dat Michail, voordat hy die jaar vir die Cravenweekspan gekies is, ’n tweejaar-kontrak by die Bulle losgeslaan het,” vertel Paddy. “Vir ons as ouers is dit moeilik, want ons kan hom nie in lewende lywe ondersteun nie – ons moet altyd die wedstryde stroom of agterna van sy spel hoor. Maar dié jaar se Cravenweek word van 5 tot 9 Julie by Hoërskool Rondebosch in die Kaap gehou, so ons gaan definitief daar wees vir hom.”. Volgens Paddy kos dit baie om jou kind na die Cravenweek en Bondedag te stuur en hy vra vir enige skenkings om dit vir hulle makliker te maak. Bel hom by 078 024 7378.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.