Ek is onder ’n swerfster gebore. Mariental lê agter my . . . 70 jaar gelede . . . in ’n land wat nie meer bestaan nie.
In 2006 het ek en Soldaat 0027*, ooggetuie van die Britse menseslagting in Noord-Ierland, bekend as Bloody Sunday, Afrika se hoogste spits aangedurf . . . en oorwin. Kilimandjaro was op my wenslys.
Maar daar was altyd die ontwykende Kaap Hoorn. Die ikoniese suidpunt van Suid-Amerika waarom jy moes kom as jy van oos na wes by die Suidsee-eilande in die Stille Oseaan wou kom. ’n Sekere kaptein Bligh van Bounty-faam was op pad na Tahiti op sy gedoemde broodboom-ekspedisie. Die kortste pad van Engeland was om die Horing, van oos na wes. Maar ná 31 dae se uitmergelende teenwinde moes hy tou oopgooi en om die Kaap die Goeie hoop vaar ten einde sy doel te bereik.
En nou is ek op pad soontoe . . . na my lewensideaal. As jy ’n dromer is, droom jy. As jy gelukkig is, lei die sterre jou na waar jy wil wees – na die einde van die aarde. Ek en Tisha – toe mejuffrou Moir – het Suid-Amerika in 1987 oor land oorkruis – van Lima, Peru, aan die Stille Oseaan tot Rio de Janeiro aan die Atlantiese Oseaan.
Maar daar was een vermiste stukkie van hierdie legkaart: die verre suide.
Nou neem my vlug my van Kaapstad na Istanbul na Buenos Aires via Sao Paulo. Dan na Santiago en dan Punta Arenas, op die Straat van Magelaan, wat in 1520 deur die Portugees in diens van die Spaanse kroon, Ferdinand Magelaan, ontdek is. Tierra del Fuego (“Vuurland”, soos Magelaan die landmassa voor hom noem) lê suid van die Straat. “Vuurland” het homself volgens een teorie eeue gelede in die Ystydperk van die Suid-Amerikaanse vasteland losgeskeur en ’n eiland geword wat deur die Straat van die vasteland geskei word.
Dis halftwaalf in die voornag toe ek daar land.
Die koue slaan jou asem weg . . . maar jy moet nog verder suid.
Ek gaan aan boord.
Ons roete neem ons deur die Straat van Magelaan, tot in die Stille Oseaan. Hy is alles behalwe “stil”. In ’n sesmeterdeining word die skip rondgeslaan soos ’n veertjie in die wind, maar ons swenk links, oos, na die Beagle-kanaal, vaar in die Avenue van Gletsers af en bestyg onderweg die majestieuse Pia-gletser; immer verder suid.
Kaap Hoorn lê op die eiland Hoorn, wat in 1616 deur twee Hollandse seevaarders, Jacob le Maire en Willem Schouten, ontdek is. Hulle vernoem die stormagtige suidste punt van Suid-Amerika na die stad Hoorn in die Noorde van Nederland. Hierdie “Kaap” lê eintlik op ’n windverwaaide rots in die gevaarlikste see op aarde. Vir eeue was die Drake-seestraat, oftewel die “Drake Passage”, die enigste erkende seeroete tussen Antarktika en die onderpunt van Suid-Amerika.
Antartika lê beswaarlik 500 seemyl van Kaap Hoorn.
Kaap Hoorn is op ’n eiland wat aan Chile behoort, en in Spaans bekend staan as Los Hornos. Vir die Franse reuse van seiljagvaart – Bernard Moitessier, my held omdat hy in 1969 eerder as om die eerste Golden Globe om-die wêreld-vaart te wen, besluit het hy seil verder na Polenesië “om my siel te red”, en Philippe Jeantot, wie se seiljag Credit Agricol ek in 1987 in Rio besoek het – en die Engelse Francis Chichester en Robin Knox-Johnson, was dit die grootste uitdaging.
Dit is steeds.
En vanjaar sluit ons eie Kirsten Neuschäfer haar by hierdie eksklusiewe klub alleenvaarders aan. Sy bevind haar nou in die uitgelese geledere van die Springbok-seilhelde wyle Bertie Reid en John Martin. Dié formidabele vaarders van weleer – en die huidige geslag – weet: jy kráák om om Kaap Hoorn te kom . . .
Sy ligging word amptelik aangegee as 55 grade 56 minute suid en 67 grade 17 minute westerlengte. Dit maak hom meer as 20 grade verder suid as Kaap Agulhas op 34 grade 49 minute suid. En jy voel dit aan jou lyf. Ons gooi anker in die inham van Leon; klou aan die rubberboot om lewe en dood, want as jy in hierdie vriesende water beland, het jy hoogstens 10 minute om te leef. Aan land dreig ’n 60 knope stormwind om jou van jou voete af te waai.
Nou weet jy hoekom hierdie ikoniese punt op die aardbol al 800 skepe en 10 000 lewens geëis het.
As jy gelukkig is, val die kaarte reg vir jou. Ek staan op die skouers van reuse. Bitter min mense op hierdie planeet kon al sy of haar voetspore laat waar die aarde begin. Inderdaad dui die sertifikaat aan my toegeken, die volgende:
Accorde le certificat suivant a:
Pierre Francois Massyn
Pour avoir franchi le Cap Horn, le point le plus sud au sud le globe,
a bord du Cruisière d’Expédition Stella Australis.
En mer 3 Novembre 2023.
3 November 2023 is die dag waarop ek 70 geword het. Die sterre se strale kruis waar hulle moet kruis vir my . . .. Ek is groot dank verskuldig aan Riaan en Therina Human van Harvey World Travel vir hul uitstekende en professionele reëlings.* Soldaat 027 se naam word vir sy eie veiligheid nie onthul nie.