Lucille Africa is gewis ’n skitterende toonbeeld van die gesegde: “Opvoeding is die sleutel tot sukses”.
Sedert sy in Augustus 1990 – meer as 34 jaar gelede – in haar geboortedorp as klerk by die Genadendal-polisie aangestel is, het sy hard gewerk, nog harder studeer en talle opofferings gemaak om stadig maar seker deur die range te klim tot die punt waar sy vandag ’n luitenant-kolonel en aan die hoof van die Hermanus-polisiekantoor se ondersteuningsdienste-afdeling is.
Dié oudleerder aan Emil Weder Sekondêr in Genadendal se pad na sukses was lank en dikwels vol opdraandes, maar haar ma, Wilina Habelgaarn Michaels, en gesin het haar aangespoor om deur te druk en nooit tou op te gooi nie.
“My grootste inspirasie vir my studies was my ma, wat ons gereeld herinner het dat niemand jou opvoeding van jou af kan wegneem nie. Sy was nie net vir my nie, maar vir talle ander in die gemeenskap van Genadendal, ’n aansporing,” het sy vertel.
Africa is ná vier jaar as administratiewe klerk by die Genadendal-polisiekantoor in April 1994 na die Hermanus-polisie verplaas. Hier het sy onder meer by die speurtak gewerk, waar sy vir datavaslegging en ander administratiewe pligte verantwoordelik was. Sy het ook as argiefklerk, misdaad-administrasieklerk en in die menslikehulpbronbestuur-afdeling gewerk en ook as reservis diens gedoen.
Die deel van haar werk wat sy die meeste geniet, vertel Africa, is om haar gemeenskap te dien en haar kollegas te help. Daarom het sy, nadat sy ’n behoefte aan beraders vir slagoffers van misdaad geïdentifiseer het, vrywillig aangebied om berading te doen.
“In dié tydperk het ek verskeie kursusse voltooi om berading na die beste van my vermoë vir die gemeenskap te lewer,” het sy vertel.
In November 2005 moes sy die moeilike besluit neem om haar man, Josias Keith Africa, wat tans ’n kolonel en die bevelvoerder van die Standerton-polisiekantoor in Mpumalanga is, sowel as haar twee seuns, Liam en Anil, agter te laat nadat sy tot administratiewe hoof by die Brits-polisiekantoor in die Noordwesprovinsie bevorder is. Sy is in Januarie 2007 – ’n bietjie langer as ’n jaar later – terug na die Hermanus-polisie verplaas. Hier het sy tot Januarie 2016 in verskeie afdelings, waaronder logistiek en finansies, gewerk.
In Januarie 2016 het sy Hermanus weer totsiens geroep om as hoof van finansies by die Balfour-polisiekantoor in Mpumalanga te begin werk.
“Gedurende my reis van klerk tot kolonel moes ek baie opofferings maak. Ek moes byvoorbeeld my familie en hele ondersteuningsnetwerk in die Wes-Kaap agterlaat en twee keer in die vreemde oor begin.
“Daar was tye dat my gesin weens werk- en studieverpligtinge almal in verskillende dorpe en selfs provinsies gewoon het,” vertel dié dinamiese vrou.
Haar harde werk en opofferings is egter beloon toe sy in Februarie 2017 tot die rang van kaptein bevorder is en by die Middelburg-polisie (Mpumalanga) as hoof van administrasie aangestel is. Sedertdien het sy aan die hoof van verskeie afdelings in die polisie gewerk, onder meer as hoof van menslikehulpbronnebestuur by die Standerton-polisiekantoor.
Nadat sy in Desember 2024 tot luitenant-kolonel bevorder is, het Africa in Januarie na Hermanus teruggekeer, waar sy nou die hoof van ondersteuningsdienste is.
“Dit is werklik vir my ’n voorreg om terug in die Overberg te wees, veral by die Hermanus-polisie, en om vir my laaste jare in die polisiediens weer eens ’n diens te kan lewer aan die gemeenskap van die Overberg waar ek die meeste van my 34 jaar en vyf maande diens in die polisie gewerk het.”
Dié vooruitstrewende polisievrou rus egter nie op haar louere nie. Nadat sy haar diploma in openbaresektor-bestuur verwerf het, is sy tans besig met haar BCom-regsgraad.
Haar boodskap aan ander klerke en lede van die polisie is dat hulle gedissiplineerd en positief moet bly.
“Ek wil elke polisielid dié bemoediging gee met die boodskap van Galasiërs 6:9 wat lui: ‘Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel’,” het sy afgesluit.