Die man wat aangekla is dat hy sy eksmeisie vermoor het, sal agter tralies bly.


Wiseman Ndara, die man wat aangekla is van die moord op sy eksmeisie Dimpho Skelenge, sal tot sy volgende hofverskyning vroeg in Januarie, agter tralies bly. 

Ndara is ure nadat Skelenge se liggaam in die vroeë oggendure van 7 September in ‘n huis in Uitsig Caledon gevind is, by sy werkplek in Bonnievale in hegtenis geneem. 

Dimpho het volgens berigte na Caledon verhuis om as klerk by die Caledon-landdroshof te werk en ook om van Ndara, wat nie wou aanvaar dat hul verhouding verby is nie, weg te kom.  Hy het volgens berigte die aand van 6 September by haar nuwe blyplek opgedaag en ‘n rusie het na bewering tussen die twee uitgebreek. Dimpho se liggaam, met verskeie steekwonde, is die volgende oggend deur ‘n buurvrou ontdek.

Lede en ondersteuners van die ANC het sedertdien by elke hofverskyning van Ndara met plakkate voor die Caledon-landdroshof betoog en geëis dat geregtigheid geskied en Ndara se borgtogsaansoek afgekeur moet word. 

‘n ANC-lid Thanduxolo Hoza het Maandag sy blydskap uitgespreek nadat Ndara se borgtogaansoek geweier is. 

“Dit is baie goeie nuus, want ons almal weet vroue word op ‘n daaglikse basis vermoor en die beskuldigdes word maklik op borgtog vrygelaat –  iets wat heeltemal onaanvaarbaar is. Ons is ook dankbaar oor die feit dat die saak tot Januarie uitgestel is en nie lank sloer nie. Dit wys dat geregtigheid wel geskied.

“Van Dimpho se familielede was by die hof. Hoewel ek nie met hulle gepraat het nie, het ek die gevoel gekry dat hulle ook tevrede is met die feit dat Ndara agter tralies sal bly,” het Hoza gesê. Die saak teen Ndara is tot 23 Januarie uitgestel.  

You need to be Logged In to leave a comment.