Verdagte laat vaar borgtogaansoek

Die man wat daarvan aangekla word dat hy ’n vrou van Elim vermoor het en haar huiswinkel beroof het, sal agter tralies bly nadat hy aangedui het dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie.


Die man wat daarvan aangekla word dat hy ’n vrou van Elim
vermoor het en haar huiswinkel beroof het, sal agter tralies bly nadat hy
aangedui het dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie.

Tashwell van der Rheede het Dinsdag 10 Augustus in die
Bredasdorp-landdroshof verskyn op aanklag van moord sowel as sakeroof. Hy het
ook verskyn op aanklag van verkragting in verband met ’n aparte saak wat uit
2019 dateer. Die hof was veronderstel om sy borgtogprofiel aan te hoor, maar
Van der Rheede het aangedui dat hy ’n teen ’n borgtogaansoek besluit het.

Hy word daarvan beskuldig dat hy Charlene October vroeg in
Julie in haar huis in Proteastraat, Elim vermoor het en die huiswinkel regs
langs haar huis beroof het.

October was volgens berigte alleen tuis saam met haar een
maand oue kleindogter toe sy vermoor is. Haar seun het Maandag 12 Julie op haar
liggaam afgekom nadat hy deur ’n venster moes klim omdat niemand die deur vir
hom oopgemaak het nie.

Van der Rheede is 19 dae later in hegtenis geneem vir die
beweerde verkragting in 2019 van ’n 26-jarige vrou van Elim. Terwyl hy in
aanhouding op dié aanklag was, is hy ook van die moord en sakeroof aangekla.

’n Klein groep inwoners van Elim en Bredasdorp het kort voor
sy verskyning voor die landdroshof met plakkate betoog om te eis dat hy nie op
borgtog vrygelaat word nie. Die versoek was dat indien hy wel borgtog sou kry,
hy nie in Elim toegelaat moes word nie.

’n Afgevaardigde van die Elim Morawiese kerk se
opsienersraad het die petisie met talle handtekeninge aan die staatsaanklaer
oorhandig.

Lana O’Neill van die Heavenly Promise-organisasie het ook ’n
geheuestokkie aan die staatsaanklaer oorhandig met ’n video waarin die
Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, raadslede
en inwoners van oor die Overberg heen vra dat borgtog nie toegestaan moet word
nie.

Een van October se susters noem ook in dié beeldmateriaal
hoe die moord haar familie, veral haar kinders – onderskeidelik 9, 13, 20 en 24
– geraak het.

“Ons kom vandag voor julle en versoek dat julle geregtigheid
sal laat seëvier,” het sy emosioneel gepleit.

Die saak teen Van der Rheede is tot 13 September uitgestel
vir verdere ondersoek. Hy sal in aanhouding bly.

Lees meer hieroor in die volgende uitgawe van die Hermanus
Times.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.