‘n Man van Hawston is gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Bianca du Plessis

‘n Man wat skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede en verkragting is ook skuldig bevind op ‘n aanklag van moord, wat verband hou met ‘n voorval wat plaasgevind het terwyl sy verhoor vir die verkragting en roof aan die gang was.

Johannes van Neel is op 3 Maart tot 15 jaar tronkstraf vir die moord op Amanda Siqhaza opgelê. Hy het Siqhaza volgens berigte in Februarie 2023, terwyl hy in verband met die roof- en verkragtingsaak op borgtog was, in Northcliff vermoor.

Van Neel (32) is in November 2021 in hegtenis geneem in verband met die gewapende roof en verkragting van ‘n vrou in September 2021. Van Neel het die slagoffer met ‘n mes gedreig en haar van haar selfoon en R100 beroof. Hy het haar toe die bosse in gesleep en verkrag.

Kapt. Buks Hanekom, bevelvoerder van die Hermanus-gesinsgeweld-, kinderbeskerming- en seksuele misdrywe-eenheid (FCS), sê die vrou het aanvanklik net die gewapende rooftog aangemeld.

“Terwyl sy by die hospitaal was vir die behandeling van haar beserings, het dit aan die lig gekom dat sy ook verkrag is.”

Van Neel is op 24 Februarie in die Hermanus-streekhof 10 jaar tronkstraf vir die verkragting en 15 jaar vir die roof met verswarende omstandighede opgelê. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Kapt. Hanekom het die ondersoekbeamptes, AO Amanda Groenewald (afgetree) en sers. Natasha Newman, sowel as die aanklaers bedank vir hul uitstekende werk wat tot Van Neel se skuldigbevinding en vonnis bygedra het.

Kaptein Edmund Abels, waarnemende speurtakbevelvoeder, het Sersant Craig Philander geloof vir sy toegewyde ondersoek wat gelei het tot Van Neel se inhegtenisneming ure na die moord.

You need to be Logged In to leave a comment.