Verdagte van moord op vrou van Bredasdorp gaan Kersfees agter tralies deurbring

Die man wat na bewering ’n bejaarde vrou van Bredasdorp in haar woonstel oorval, beroof en vermoedelik verwurg het, sal die feestyd agter tralies deurbring.


Die man wat na bewering ’n bejaarde vrou van Bredasdorp in haar woonstel oorval, beroof en vermoedelik verwurg het, sal die feestyd agter tralies deurbring.

Anthony Visser (23) het Woensdag 8 November in die Bredasdorp-landdroshof aangedui hy sal nie meer om borgtog aansoek doen nie. Hy is aangekla van die moord op Adriana “Riana” Gresse sowel as huisbraak en diefstal.

Die afgetrede vakadviseur se liggaam is Saterdag 21 Oktober in haar woonstel se spaarkamer ontdek nadat bure ondersoek ingestel het omdat die veiligheidsbewuste vrou se huis se veiligheidshek oopgestaan het. Die verdagte of verdagtes het verskeie van haar besittings, insluitend haar selfoon en juwele, gebuit.

Kapt. Linda Volkwyn, die Bredasdorp-polisie se speurtakbevelvoerder, het bevestig Visser is ’n paar dae later in hegtenis geneem toe die polisie inligting oor die gesteelde goedere opgevolg het.

’n Man is vir die besit van die gesteelde goedere in hegtenis geneem nadat Gresse se selfoon in sy besit gekry is en hy het reeds in die hof verskyn. Hy word egter nie aan die moord gekoppel nie.

Die saak teen Visser is tot 10 Januarie 2024 uitgestel en hy sal tot dan in aanhouding bly.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.