’n 30-jarige man is Woensdag gearresteer vir die grusame moord op Gershwin Johnson, ’n tienjarige seuntjie van Kleinmond.
Die seuntjie se jonger broer Damien Johnson (7) het glo die sinnelose aanval aanskou.
Die twee broers was op pad skooltoe toe die voorval in ’n sanderige voetpaadjie teen die berg in Proteadorp, Kleinmond gebeur het.
Volgens die seuns se ma, Carmen Johnson, het Damien agterna vertel hoe die 30-jarige man, wat naby hulle woon, sy hande om Gershwin se nekkie gedruk en hom verwurg het.
“Ek ken nog nie al die details nie en ek weet nie hoeveel Damien gesien het nie want ons wil hom nie te veel uitvra nie, maar hulle sê hy het my seun gewurg, met ’n mes gesteek en ’n baie groot klip op sy kop gegooi,” het Carmen vertel.
Overberg distriksbevelvoerder Brigadier Donovan Heilbron het bevestig dat die verdagte kort daarna by sy huis in hegtenis geneem is.