Die twee mans wat in verband met die wrede moord op ’n ma van vier aangekeer is, sal in aanhouding bly nadat die saak teen hulle vir verdere ondersoek uitgestel is.
Die verdagtes het Maandag vlugtig in die Hermanus-landdroshof in verband met die moord op Mariëtte Lopez (42) verskyn. ’n Derde verdagte is nie van die moord aangekla nie en is vrygelaat.
Die mans is in hegtenis geneem kort nadat Lopez se liggaam Dinsdag 26 Desember in die vroeë oggendure by ’n vermeende smokkelhuis ontdek is.
Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig owerhede is omstreeks 04:40 na die toneel in Roosstraat ontbied. “Die beamptes het die slagoffer gevind waar sy in ’n poel bloed gelê het. Sy het steekwonde aan die rug, nek en regterskouer gehad. Sy is op die toneel dood verklaar.
“Verdagtes is in verband met die moord in hegtenis geneem en het in die hof verskyn.”
Die moord het die gemeenskap diep geruk en inwoners het Donderdag 28 Desember met die verdagtes se eerste hofverskyning aan ’n vreedsame optog van Mount Pleasant na die Hermanus-landdroshof deelgeneem. Die groep het plakkate met slagspreuke soos “Geregtigheid vir Mariëtte”, “Genoeg is Genoeg” en “No More Violence” gehad. ’n Memorandum wat eis dat die beskuldigdes nie op borgtog vrygelaat word nie, is aan die owerhede oorhandig.. Lopez is Saterdag 30 Desember 2023 ter ruste gelê.