Twee verdagtes wat moontlik betrokke was by die moorde in Hawston is in hegtenis geneem.

Twee verdagtes wat vermoedelik betrokke was by die skietvoorval twee weke gelede in Hawston wat drie jong mans se lewens geëis het, sal vandag in die landdroshof in die Paarl verskyn.

Paarl-polisie se woordvoeder, kaptein L. du Plessis, berig die verdagtes, onderskeidelik 35 en 39 jaar oud, is Woensdag 28 Mei deur lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid (AGU) in ‘n veiligheidskompleks in die Paarl in hegtenis geneem.

“Die verdagtes is aangekeer nadat lede van die teenbende-eenheid inligting opgevolg het rakende die moorde in Hawston op 11 Mei. ‘n AK-47-geweer met agt patrone en drie 9mm-pistole met verskeie patrone is in die verdagtes se besit gevind,” het Du Plessis bygevoeg.

Drie mans – Uwellin “Pork” Salies, Vittorio Julies en ‘n derde wat slegs as Royston geïdentifiseer was – is gewond in die aanval op Moedersdag toe verskeie gewapende mans uit ‘n wit BMW met CEM-nommerplate gespring en skote op hulle afgevuur het. Salies en Julies is op die toneel dood verklaar terwyl die derde persoon later die aand in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Die verdagtes sal vandag (Vrydag 30 Mei) op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die landdroshof in Paarl verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.