Die verfraaiing van sypaadjies en oop stukke grond, wat dikwels vir rommelstrooi benut word, is iets wat vir Stephen Wildschut van Caledon na aan die hart lê.
Wildschut het nie net sy eie sypaadjie voor sy huis in Bergsig verfraai nie, maar ook dié aan die oorkant van sy huis (Hermanus Times 8 Maart 2023: “Sypaadjies kry nuwe lewe”). Hy het ook, met toestemming, begin om ’n deel van die nabygeleë meentgrond te verfraai.
Verskeie ander inwoners het ook begin om openbare tuintjies aan te lê.
Wildschut het inwoners in ’n sosialemediaplasing aangemoedig om ook aan die verfraaiingsprojek deel te neem. Die Kaapse Forum het hiervan te hore gekom en onderneem om nie net 100 spekboompies te skenk nie, maar ook om te help om dit te plant.
Van dié spekbome is op 27 Junie by die Tafelronde Herberg asook in die tuin voor Swartberg Sekondêr geplant.
Kaapse Forum se voorsitter, Heindrich Wyngaard, noem aan Hermanus Times: “Hierdie is deel van ’n groter vergroeningsfokus van die Kaapse Forum. Jy hoef nie altyd baie geld te hê om ’n verskil in gemeenskappe te maak nie. Iets so eenvoudig soos bome plant, wat tot voordeel van die hele gemeenskap, die samelewing en natuurlik die planeet is, is iets waarmee jy ook op ’n klein manier ’n verskil kan maak, en hopelik steek dit dan ’n kers van hoop aan. Die wonderlike ding van mense soos Wildschut is dat hulle reeds begin het, met watter hulpbronne hulle ook al tot hul beskikking gehad het, om daardie verskil te maak en die Kaapse Forum sê: ‘Kom ons neem julle aan die hand’.”
Dit was ’n plesier om te sien met hoeveel oorgawe die inwoners van die Tafelronde Herberg hul spekboompies in die vooraf bereide gate geplant het. Die meeste het ook onderneem om self hul boompies te versorg.
Wyngaard het Wildschut as een van die Kaapse Forum se Kaapse kampioene aangewys en ’n trofee aan hom oorhandig.
“Dit was vir my ’n riem onder die hart dat Kaapse Forum aan my dié trofee oorhandig het. Dit is vir my ’n besondere aanmoediging om hierdie projek verder binne die gemeenskap te laat groei,” sê Wildschut.
Hy sê ook dit was vir hom verblydend om te sien dat twee jongmanne, Elgardo Alexander en Aswell Page, wat self ’n pragtige gemeenskapstuin langs die ou Tavern aangelê het, sommer vroegoggend ingespring het om in die Herberg se tuin te skoffel. Dié twee het onderneem om gereeld by die Herberg se tuin in te loer en te help waar nodig.
Ter afsluiting noem Wildschut: “Buurtverfraaiing veroorsaak dat minder rommelstrooi, wat ’n euwel is, in die gemeenskap plaasvind.”
Wyngaard sê die bome is deur die departement van landbou verskaf. “Die departement het die bome, maar nie noodwendig die hulpbronne of die personeel om na elke dorp of organisasie te gaan om bome te plant nie, dus tree ons soort van as middelman op om die bome by die gemeenskap te kry. Spekbome is nie die enigste bome waartoe ons toegang het nie.”. Indien mense bome vir gemeenskapsprojekte benodig, kan hulle Elizma Arendse by Kaapse Forum per WhatsApp by 066 473 4431 kontak.