Verhoor na hooggeregshof

Die man wat daarvan aangekla is dat hy sy gewese vrou vermoor het, sal Vrydag tydens sy en sy medebeskuldigde se voorverhoor vir die eerste keer in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.


Die man wat daarvan aangekla is dat hy sy gewese vrou vermoor het, sal Vrydag tydens sy en sy medebeskuldigde se voorverhoor vir die eerste keer in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Ashley October en Tashwell van der Rheede word daarvan aangekla dat hulle saamgesweer het om October se eksvrou, Charlene October, in haar huis in die sendingdorpie Elim te vermoor.

Charlene se liggaam is Maandag 12 Julie deur haar oudste seun, Ethan Telemachus, ontdek. Telemachus het aan die Hermanus Times onthul dat hy, October en nog ander mense die dag voor die moord na bewering ’n Sondagmaal by sy ma se huis geniet het.

Van der Rheede is ongeveer drie weke na die moord in hegtenis geneem en October, Charlene se gewese man en die pa van haar twee jongste kinders, in November.

October staar aanklagte van sameswering om moord te pleeg, sameswering tot roof en moord, huisbraak met die doel om te roof en vermoor, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en poging tot dwarsboming van die gereg in die gesig.

Van der Rheede is van sameswering tot moord en sameswe­ring tot roof en moord, aange­kla. Hy het kort na sy inhegte­nis­neming aangedui dat hy nie om borgtog aansoek sou doen nie. Van der Rheede het egter in April ’n borgtogaansoek voor die Bredasdorp-landdroshof gebring. Dié aansoek is afgekeur. October se borgtogaansoek is in Januarie afgekeur.

Met albei mans se eerste hofverskynings het inwoners van Elim en Bredasdorp versoekskrifte opgestel om te eis dat die mans nie op borgtog vrygelaat moet word nie en voor die hof betoog.

Die doel van Vrydag se voorverhoor-konferens­ie is om te bepaal of beide die staat en die beskul­digdes se prokureurs gereed is om met die verhoor voort te gaan en om ’n verhoordatum vas te stel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.