De Necker van Schalkwyk se vermeende moordenaar sal weer op 14 Augustus in die Hermanus-streekhof verskyn.


Nege maande nadat De Necker van Schalkwyk in Rotaryweg beroof en vermoor is, het sy vermeende moordenaar uiteindelik die eerste keer in die streekhof verskyn.

Die saak teen Sandile Lumatha, wat slegs van De Necker se moord aangekla is, is egter verlede Donderdag (25 Julie) in die Hermanus-streekhof op versoek van sy regshulp-prokureur tot 14 Augustus uitgestel. Die rede vir die uitstel was sodat sy afskrifte van die dossier kan ontvang en bestudeer en met haar kliënt kan konsulteer.

“Wat kan ’n mens sê? Met hierdie hofsaak wat nie klaarkom nie, is dit asof ons pyn ook suspended is.”

Lumatha is Dinsdag 10 Oktober 2023 in hegtenis geneem nadat ’n getuie die polisie ingelig het dat hy met ’n groot bedrag geld en ’n vuurwapen gesien is.

Twee mans – Michael Kwaki en Simnikiwe Siyabonga Ntonga – is in hegtenis geneem en van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie sowel as die besit van gesteelde goedere aangekla nadat Lumatha volgens berigte beweer het dat hulle hom van dié goedere beroof het.

LEES | Vermeende moordenaar van De Necker van Schalkwyk van buit glo beroof

Van Schalkwyk se liggaam is Woensdag 11 Oktober verlede jaar in Rotaryweg gevind, ’n kort ent van waar sy bakkie die vorige dag gevind is tydens ’n soektog na hom nadat hy as vermis aangemeld is toe hy nie teruggekeer het huis toe nie.

Hy het ’n enkele skietwond gehad.

Borgtog van R500 elk is aan Kwaki en Ntonga toegestaan.

Pyn

Lumatha, wat van ’n skedule-6-misdryf (moord met voorbedagte rade) aangekla is, se aansoek om borgtog is egter afgekeur en hy is steeds in aanhouding.

Die feit dat die saak teen haar seun se vermeende moordenaar al telkemale uitgestel en nog nie afgehandel is nie, sê Adri de Necker, is uitmergelend.

“Wat kan ’n mens sê? Met hierdie hofsaak wat nie klaarkom nie, is dit asof ons pyn ook suspended is.”

“My seer is eintlik nou tweesny­dend, want ek kan nie klaarheid kry oor my kind se dood nie. My vraag van ‘hoekom’ het nou nog soveel moontlike antwoorde. En ander se menings en teorieë kerf stukke uit my!”

Die feit dat Lumatha tydens sy borgtogaansoek beweer het dat Van Schalkwyk hom glo geld aangebied het om hom te vermoor, veroorsaak ook verdere pyn en onsekerheid vir sy geliefdes.

“My seer is eintlik nou tweesny­dend, want ek kan nie klaarheid kry oor my kind se dood nie. My vraag van ‘hoekom’ het nou nog soveel moontlike antwoorde. En ander se menings en teorieë kerf stukke uit my!” sê Adri.

“Hoe berus jy by God se plan as jy nie eens weet waar om die waarheid te begin soek nie?

“En elke keer as die saak uitgestel word, word my ‘vat die seer, maak dit jou seer’ weer vorentoe gedruk. Geen mens kan onbepaald met ’n bloeiende siel leef nie,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.